tus) wat weinig aan die verbeelding oorlaat en boonop niks nuuts sê nie. Maar daar is 'n verdere breuk in die struktuur. Groot dele van die drama is oorwegend realisties: vgl. die eerste bedryf en die latere oopvlekking van menslike motiewe. Die optrede van die besoeker en die optrede teenoor hom (en in verband met hom) is egter op realistiese vlak onwaarskynlik en ongemotiveerd: vgl. die moord op hom en die gevolglike verdwyning van die pes. (Ten einde by die allegorie in te pas, word die eksterne werklikheid verkrag). Daar is ander swakhede in die drama. Die tegnieke van spelletjie en oopvlekking van
motiewe is darem 'n te opsigtelike navolging van Who's afraid of Virgina Woolf? Ook is die lewensinsigte wat met dié oopvlekking gegee word, nie danig treffend of diep nie.
Die hoofinsig wat Barnard se Pa Maak vir my 'n Vlieër Pa (1964) wil bring, is min of meer die volgende: Om jou skuld (teenoor jouself en medemens) te probeer ontwyk deur òf in die verlede in te leef (die ou vrou), òf jouself in die hede te isoleer (hetsy letterlik of in die droom - vgl. Org), bring slegs 'n sinlose, steriele bestaan mee. 'n Mens moet jou skuld teenoor jouself en jou medemens in die oë staar. Want dié medemens (en in die stuk word o.m. ook die nie-blanke medemens gesuggereer) het óók sy regte, het óók sy droom, wil ook sy vlieër hoog in die lug laat opstyg, ja sélf saam met sy vlieër opstyg. Dit alles klink baie indrukwekkend - en is dit inderdaad ook, maar of Barnard daarin geslaag het om deurgaans op artistieke, op dramatiese wyse aan dié grondkonsepsie gestalte te gee, val te betwyfel. Daar is wel tonele wat ontroer, bv. die slot, die genoemde vlieër-episode en die ou vrou se: ‘Weenen... Weenen’. Aan die ander kant is daar baie wat hinder. Die dialoog is vir lang rukke (veral in die tweede en derde bedryf) eenvoudig morsdood, òf omdat daar bloot geskree of gevloek word, òf deur onnodige herhaling, òf deur 'n gepraat wat nie relevant genoeg voorkom nie (bv. oor die moontlikheid dat die vrou se weldoener dalk oorlede is). Die stukke absurde dialoog is flou, soos ook baie van die groteske voorstellings, bv. die brandende lampie wat die ou vrou gedurig houvas en wat die valse illusies waarby sy en Org lewe, simboliseer.
'n Skip is ons beloof (1969) van George Louw is deur W.E.G. Louw geloof as 'n grootse toneeldeurbraak (Die Burger, 26 Mei, 1969), maar ek weet nie so mooi nie Daar is wel treffende momente: vgl. die gesprek tussen die goewerneur en sy lyfbediende op bl. 33, en die volgende woorde van die ou man: ‘Die mens is geen eiland nie. Al roei hy weg 'n oseaan van eensaamheid in, bring eensaamheid hom terug, gehawend. Ons groei uit mekaar uit soos die takke van baie bome, en leun op mekaar soos huise. Ons soek mekaar, ons soek mekaar, al soek ons soos bloedsuiers!’ Tog knak, misluk dié drama in sy kern. Ek weet nie wat gebeur het nie, maar die sentrale konflik - dié tussen die verligte enkeling en die bot massa - is nòg groots, nòg tragies: dis bloot melodramaties. Ek dink Louw is té stereotiep, té onoorspronklik, sluit té sterk aan by N.P. van Wyk Louw; vgl. benewens die sentrale problematiek ook die vele Van Wyk Louwcliché's: ‘dom woorde’, ‘hierdie brak eeu’, ‘sy klein bearip van waarheid’ en die praat rondom die begrippe ‘dwaas’, ‘reg’, ‘menslikheid’, ‘held’, ens
Onder die eksperimentele groep is daar slegs drie dramas wat vir die Afrikaanse dramakuns 'n blywende verryking beteken het, t.w. Putsonderwater van Bartho Smit, Kanna Hy Kô Hystoe van Adam Small en Nag van Legio van P.G. du Plessis. Sekere karakters en gegewens in Putsonderwater (1962) is onmiskenbaar allegories: die dominee, sersant en dokter verteenwoordig onderskeidelik die kerk, die staat (die gesag) en die wetenskap. Die naam Putsonderwater en die feit dat dié dorpie in die woestyn lê, spreek vanself. Van 'n konsekwente allegorie is hier egter nie sprake nie; sommige gebeure is eerder vaagsimbolies as eng allegories. (Ek noem dit opsetlik, omdat die kritiek, o.m. André Brink en A.P. Grové foutiewe en onregverdige besware teen die simboliseringsproses in die drama geopper het.) 'n Figuur soos Maria is bv. eerder simbolies as allegories. Ons kan nie presies en finaal sê waarvoor sy staan nie. Ons kan wel by benadering sê dat sy simbool word van die mens wat tot wanhoop gedryf word deur onbegrip (van die kant van die medemens) en deur vernietiging van die skoonste illusies; deur 'n onsimpatieke en ondoelmatige kerk en staat en deur 'n koue wetenskap wat die siel verwaarloos. Ook die laaste gedeelte van die drama - en dié is een van die grootste momente in die dramakuns van die dekade - is in sy suggestiviteit en veelduidigheid eerder simbolies. Die dokter sê naamlik aan Maria dat haar kindjje dalk nog die wonderlikste man word wat ooit gelewe het, die man wat die dood kan oorwin en die woestyn in 'n paradys kan verander. (Hier is verwysings na die Messias-voorspelling in die Ou Testament, bv. Jesaja 35 en 50.) Maria glo die dokter en word so simbool van dié mens wat in 'n barre, vooruitsiglose wêreld waarin die formele godsdiens (die kerk) gefaal het, sy eie Messias-verwagting skep, d.w.s. sy eie
godsdiens, mite of filosofie skep, al is dit dan 'n illusie, al is dit dan waandenke (en in die geval van Maria - en die mens - net weer 'n verdere illusie wat óók vernietig mag word!). Ek wys nog op die uiters boeiende dialoog, die soms treffende sienings (‘Kinders is bang vir die donker. Die dood is die grootmense se donker. Hulle is almal bang daarvoor’), die grootste verleidingstoneel waar die dominee die Woord van God vir bose doeleindes aanwend, en die mooi ironiese effekte wanneer die naïwe spreker (hier Maria) dinge sê waarvan ons weet dat net die teenoorgestelde waar is (vgl. haar vereenselwiging van die hemelse Goudstad met Johannesburg) of waarvan sy die volle implikasies nie besef nie, maar ons wel, soos die volgende woorde van die dominee wat sy aan Asgat oorvertel: ‘In hulle harte is alle mense wilde diere. Slegs die liefde maak hulle mense. En die liefde is van God. Sonder God se liefde sal hulle mekaar verskeur en opvreet. En dis dáárvoor wat hulle bang is’. Juis deur die onskuldigheid en naïwiteit van die kindergesprek word die volle implikasies van die woorde des te skerper tuisgebring. Ten slotte 'n voorbeeld van die treffende dialoog:
Hy speel. Sit jou hand hier, dan kan jy hom voel.
(Nadat hy 'n oomblik eerbiedig met sy hand op haar maag gesit het) Hy kan hol, hè!
Van Kanna Hy Kô Hystoe (1965) sê Rob Antonissen dat dit ‘in Afrikaans die mees deurtastende inlewing in die bestaan van die armes’ is. Hiermee wil ek my heelhartig vereenselwig. Die hartstogtelike gebed van ou Jakob die straatprediker aan die begin van die drama, vergesel van kitaarspel wat wisselend harder en sagter is naarmate Jakob harder of sagter praat, moet waarlik 'n aangrypende belewenis wees: