Afrikaans in die plek van die Nederlandse Bybel gekom het, is Nederlands in Suid-Afrika tersy gedring na die Universiteit waar die aandag aan sy letterkunde en taalkunde gegee is. Op die Universiteit speel Nederlands in Suid-Afrika 'n belangriker rol as Afrikaans in Nederland en Vlaandere: Afrikaans word in Nederland slegs aan twee Universiteite, nl. te Amsterdam en Leiden gedoseer en bestudeer en in Vlaandere nêrens nie, alhoewel dit miskien interessant is om te vermeld dat daaraan gewerk word om Afrikaans aan die universiteite in België op gelyke voet te plaas met Skandinawiese tale, nl. as nagraadse keusevak vir die studie in die Germaanse filologie. In Suid-Afrika word buitendien nog op hoërskoolvlak 'n paar Nederlandse letterkundige werke voorgeskryf, gewoonlik van outeurs van 'n ouer generasie. Matrikulante maak dan kennis met werke soos De Kleine Johannes van Frederik van Eeeden, De jeugd van Francesco Campana van Scharten Antink, De Oogst van Styn Streuvels en Een zwerver verliefd van Arthur van Schendel, ens. Op universiteit dien die studie van Nederlands hoofsaaklik om 'n blikverruimende, historiese agtergrond vir die studie van Afrikaans te gee; behalwe Middelnederlands en 16de en 17de eeuse Nederlands word ook die moderne Nederlands bestudeer.
Nie alleen die studie van Afrikaans nie, maar ook die van o.a. die Teologie, die van die Romeins-Hollandse Reg en die van die ouer Suid-Afrikaanse geskiedenis bring Afrikaanse studente en wetenskaplike geïnteresseerdes in kontak met Nederlandse handboeke en geskrifte. In verhouding word dan ook veel meer Nederlandse boeke in Suid-Afrika ingevoer as wat daar Afrikaanse boeke na Nederland en Vlaandere uitgevoer word.
Ons sien dus dat byna alle Afrikaanssprekende op hoërskoolvlak of by latere studie met Nederlands as taal of met die Nederlandse handboek in aanraking kom, maar dat die Nederlands-talige vakliteratuur, in vergelyking met die Engelse en Amerikaanse handboek baie min deur Afrikaanssprekendes gebruik word. Die Nederlandse romans is nie vir die Afrikaanse romanleser aantreklik nie. Ten minste dit was so in die verlede en moontlik is die verklaring dat die Afrikaner tot kort gelede 'n landelike mens was en die Nederlandse hoofsaaklik 'n stedeling. Miskien het die moderne Nederlandse roman vir die moderne Afrikaner 'n boodskap, maar hy kom nie sover om Nederlands te leer nie. Wat kan gedoen word om verandering in hierdie toestand te bring. Heelwat kritiek is reeds uitgeoefen op die tipe Nederlandse boeke wat in die hoërskole voorgeskryf word en sommige deskundiges is die mening toegedaan dat meer moderne romans voorgeskryf behoort te word. Ek twyfel egter of mens enige soort boek populêr maak deur dit voor te skryf. Die gedagte is ook geopper dat Nederlands as 'n aparte keusevak, (los van Afrikaans), op skole en universiteite gedoseer moet word. Dit mag daartoe lei dat Afrikaans sonder sy Nederlandse agtergrond bestudeer gaan word op Universiteit en dat vir 'n groot gedeelte van die leerlinge ook daardie geringe aanraking met die Nederlandse boek verlore sal gaan.
Die Staatsbiblioteek probeer al jare lank om die gebruik en lees van die Nederlandse boek onder die Afrikaanssprekende te bevorder - dit is miskien interessant om hier te meld dat die stigting van die Staatsbiblioteek in 1887 'n direkte gevolg was van 'n skenking van 'n versameling van Nederlandse boeke wat die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden aan die Transvaalse Regering gemaak het. In 1958 is 'n spesiale afdeling met die naam Nederlands-Vlaamse Versameling by die Staatsbiblioteek in die lewe geroep met 'n senior bibliotekaris aan die hoof, met die doel om 'n sentrale naslaanversameling van Nederlandstalige literatuur op te bou, om te sorg dat hierdie versameling onder die aandag van die publiek gebring word, alsook om die lesende publiek bewus te maak van en op te voed tot die gebruik van die groot massa populêre lektuur wat in Nederlands bestaan en wat 'n goeie aanvulling tot die Afrikaanse lektuur kan wees. Vanaf 1958 tot 1963, toe die Staatsbiblioteek nog beide die munisipale en nasionale biblioteekfunksies behartig het, is alles probeer om die lees van Nederlands in Suid-Afrika aan te moedig: lesings en radiopraatjies is gelewer, tentoonstellings is georganiseer, 'n taamlike groot bedrag is aan die aankoop van publikasies bestee, bibliografieë en keurlyste is opgestel en versprei, ens. In die openbare leenafdeling is Nederlandse romans alfabeties tussen Afrikaanse romans gerangskik - dit alles om die Afrikaanssprekende se andag op die Nederlandse boek te vestig. Sedert 1964 word nog steeds 'n deel van die boekfondse aangewend vir die aankoop van Nederlandstalige lektuur, maar omdat die Staatsbiblioteek nie meer als openbare biblioteek funksioneer nie, word weinig gedoen om hierdie publikasies bekend te stel. Ons wil egter die hoop uitspreek dat hierdie uitstalling van sagtebandboeke daartoe sal bydra om die Afrikaner 'n indruk te gee van die groot verskeidenheid publikasies wat op alle
moontlike gebiede, teen redelike pryse in Nederland en Vlaandere gepubliseer word. Die uitstalling sal na 27 Junie nog by verskillende belangrike universiteits- en openbare biblioteke in die Republiek vertoon word.
Dan is hier verder nog 'n uitstalling van 25 panele waarop in woord en beeld 'n oorsig gegee word van die befaamde Nederlandse Delta-plan, een van die grootste hidrologiese projekte wat nog ooit ter wêreld aangepak is. Sedert die jaar 1200 is in Nederland 'n onafgebroke stryd teen die water gevoer, omdat 'n gedeelte van die land onder die seespieël lê. In 1953 het een van die grootste rampe wat Nederland nog ooit getref het, plaatsgevind toe die suid-ooste van Holland oorstroom is deur die water van die Noordsee en die ou dyke, wat die land eeuelank beskerm het, gebreek het. 1,835 mense het hulle lewe verloor en 47.000 huise, skole, kerke en boerderye is deur die water verniel of ernstig beskadig. Dit is toe besluit dat so 'n ramp nooit weer plaas mag vind nie en die enorme Delta-plan is ontwerp. Die Delta-werke bestaan uit 'n lyn van enorme, sterk dyke wat die vroeëre seearms afsluit en sodoende die Noordsee verhoed om ooit weer die gebied binne te dring. As gevolg hiervan word hierdie seearms omskep in damme en mere wat geen gevaar meer inhou vir die mense wat daar naby woon nie - soet waterdamme is dus geskep wat tewens in die toekoms belangrike rekreasiegebiede sal vorm.
'n Verdere 25 panele gee 'n aantal kenmerke van die groei en ontwikkeling van die Nederlandse stad, vanaf die laat middeleeue tot vandag, ook weer aan die hand van prentkaarte, foto's en beskrywings. Alhoewel die ontwikkeling gedeeltelik parallel loop met dié van ander Wes-Europese stede, bly die geheelbeeld uniek, omdat dit 'n oorsig gee van die ewolusie, van die onafhanklike burger - die eerste in die wêreld sedert die Grieke. 'n Tentoonstelling wat gewy is aan die Nederlandse stad, gee nie net 'n beeld van die stede nie, maar dit is 'n spieël van die Nederlandse beskawing omdat Nederland 'n stedeland by uitstek is.
Die fotouitstalling van België ten slotte gee 'n goeie beeld van die Belgiese landskap, sy pragtige stede, geboue en kunsskatte.
Dr. J.J.P. Op 't Hof, Sekretaris van Kultuursake, Pretoria