Truk-toneel se nuwe Ampie.
Jochem van Bruggen het die plattelandse arm blanke bestaan van meer as dertig jaar gelede in sy romans uitgebeeld waarvan die toneelstuk Ampie 'n verwerking is. Sy boek Met Ampie deur die Depressie is 'n beskrywing van sy eie toneelgeselskap se reis met die stuk in daardie moeilike jare. So het van Bruggen self geskryf: ‘Ons het darem hier en daar die ondersteuning gekry; maar vyf-en-negentig persent van die hele toer het uitgeloop op geen belangstelling... Oral was depressie...’.
Tye het baie verander. Van Bruggen se arm blanke het feitlik verdwyn, daarby het 'n groot trek na die stede en dorpe plaasgevind. 'n Oorwegend landelike bevolking het 'n oorwegend stedelike bevolking geword. En ook die toneelberoep het in Suid-Afrika baie verander. 'n Sukkelende kwasi-beroep het ontwikkel in 'n hoogs professionele beroep. Langdurige voorbereiding en bekwame spelleiding van goeie regisseurs sorg vir die beste gebruik van elke akteur se talent. In al vier provinsies is Uitvoerende Rade vir die Kunste wat akteurs teen 'n vaste salaris aanstel.
Baie mense het bedenkings gehad oor die nuwe opvoering van Ampie. Tyd het te veel verander. Sou die lokale realisme van oor die dertig jaar gelede nie vandag te banaal klink nie? Sou die stuk nog enige iets te sê hê vir die welvarende stadsburger van vandag? En ons professionele toneelspelers van die stad, sou hulle hulle werklik kon inlewe in die stuk en die depressiemense weer laat lewe?
'n Mens was lanklaas so aangenaam verras. Die opvoering was 'n volslae sukses en het aand na aand vol sale getrek. Elkeen wat die stuk gesien het, was gaande daaroor.
Marius Weyers gee 'n onverbeterlike vertolking in die hoofrol as Ampie. Hy leef in die rol. Hy word Ampie. Die dialoog van die stuk en die welvarende tyd waarin ons lewe kon 'n akteur maklik verlei om Ampie te toon as 'n soort spotprent van die arm blanke van die depressie: verwaarloos, dom en domastrant. Maar in Marius Weyers se vertolking gebeur dit nie. Soos die spel ontplooi, skuif die dom, ongeleerde bywonerseun in die agtergrond en kom die mens in sy bestaanstryd al meer na vore. Jochem van Bruggen sou tevrede gewees het. In die Dertigjare het hy geskryf: ‘Ek het daar na verlang om Ampie te sien speel soos ek hom my voorstel, soos ekself dit sou gedoen het as ek kon speel, omdat daar soveel van Ampie ook in my en baie ander mense, wat hulleself wil ken, is. En daarin skuil die drama, daaruit moet openbaar word die algemeen-menslike, wat Ampie geen tipe maak nie, omdat hy oral op die wêreld lewe’.
Die dekor was vir my vernuftig en baie goed. Soos om byvoorbeeld op die gordyne deur 'n paar golwende lyne die kaal heuwelwêreld waar Ampie geleef het, aan te wys. ‘Die donkierol gee baie moeilikheid’, het Van Bruggen geskryf. Maar vandag se regisseurs laat hulle nie van so 'n ou kleinigheidjie afskrik nie. Ou Jakob, Ampie se troue donkievriend, het gereeld op die verhoog verskyn wanneer dit sy beurt is en sy deel gedoen.
Hoewel die hoofdrol die spil is waarom hierdie toneelstuk draai, het ook die ander spelers goed vertoon en beïndruk. Dit was vir niemand wat die stuk gaan sien het nodig om weer belangstelling te kweek vir die probleme van dertig jaar gelede nie. In die opvoering van hierdie drama het die akteurs gewys dat Van Bruggen se karakters nie dood is nie. Hulle leef vandag nog.
D.M. Greeff