Die Hertzogprys vir Afrikaanse Letterkunde, 1970.
Dit het 'n gewoonte geword dat daar elke jaar 'n bietjie moeilikheid rondom die Hertzogprys ontstaan. Vanjaar was toe ook weer nie die uitsondering nie.
Die Suid-Afrikaanse Akademie se letterkundige keurkomitee onder voorsitterskap van prof. A.P. Grové het aanbeveel dat Etienne Leroux die prys, wat vanjaar vir prosa toegeken word, ontvang. Leroux se jongste romans is 18-44 en Isis Isis Isis. In 1964 het hy die Hertzogprys gekry vir Sewe dae by die Silbersteins. In 1967 is Een vir Azazel van Leroux oorweeg maar op die ou end is besluit om geen prys toe te ken nie. Vanjaar het die Keurkomitee ook in sy bevinding bygevoeg dat as Etienne Leroux die prys nie vanjaar ontvang nie, dan moet dit aan niemand gaan nie.
Daar was egter ook 'n minderheidsverslag van lede van die Keurkomitee wat aanbeveel het dat Karel Schoeman die prys kry.
Die Akademieraad wat natuurwetenskaplikes en ander geleerdes insluit, het die minderheid se aanbeveling aanvaar en die prys aan Karel Schoeman toegeken, in besonder vir sy drie werke, By Fakkellig, 'n Lug vol helder wolke en Spiraal.
Karel Schoeman is vir die meeste Afrikaners 'n betreklik onbekende skrywer wie se werk nog nooit opspraak verwek het nie. (Nou moet 'n mens nie vergeet dat Etienne Leroux se werk ook nie opspraak verwek het voordat hy die Hertzogprys in 1964 ontvang het nie). En daar moet haastig bygevoeg word dat Schoeman sedert 1965 reeds nege boeke gepubliseer het en almal werke van gehalte: Berig uit die vreemde ('n Ierse dagboek), Veldslag, 'n Lug vol helder Wolke, By Fakkellig, Spiraal, Van 'n Verre Eiland ('n Tweede Ierse dagboek), Die Hart van die Son (Lewe van Shakespeare), Oom Wanja (Tsjekof in Afrikaans vertaal) en Lig in die Donker (Lewe van Rembrandt).
Persoonlik sou ek liewer wou sien dat die Akademieraad die meerderheidsaanbeveling van sy letterkundige keurkomitee aanvaar het. En veral juis omdat Schoeman se werk van 'n baie verdienstelike gehalte is. So 'n, ek wil byna sê oneervolle toekenning, doen afbreuk aan 'n prys wat algemeen beskou word as die hoogste eer op letterkundige gebied in Suid-Afrika. En vir my gevoel doen so 'n toekenning gebaseer op 'n minderheidsaanbeveling selfs afbreuk aan die aansien van 'n gehalte-skrywer soos Karel Schoeman.
En dan is daar ook nog die ander bekwame skrywers van die Sestigerjare wat nog nie die Hertzogprys ontvang het nie o.a. André Brink, Breyten Breytenbach, Chris Barnard, Abraham de Vries. Nee, vir al die prestige wat aan die Hertzogprys verbonde is, ook veral omdat voorgegee word dat die toekenning op letterkundige meriete geskied, moet 'n mens beklemtoon dat dit nie as die laatste maatstaf beskou moet word nie. Van die beste Afrikaanse skrywers het dit ontvang, van die bestes het dit nie ontvang nie of het dit nog nie ontvang nie.
Ag nou ja, 'n skrywer skryf om gelees te word en al die lawaai en bedenkings oor die Hertzogprys bring tog bietjie lewe en belangstelling in die letterkunde, iets wat dit altyd broodnodig het.
En kritiek op die manier waarop die prys toegeken is, beteken hoegenaamd nie dat Karel Schoeman se werk nie goed is nie. In 'n tyd soos die sestigerjare in Suid-Afrika, toe bykans elke skrywer van betekenis met mag en mening gestreef het om nuwe verwikkelde en veral nuuteksperimentele boeke te maak, sê dit al klaar heelwat vir 'n skrywer wat teen die stroom in, voor die dag kom met geslaagde werke in konvensionele skryfstyl en met 'n ‘outydse’ chronologiese verloop van sy verhaal. En as 'n mens sê dat Schoeman onmodern, konserwatief skryf, beteken dit nie dat hy herhaal wat ander voorheen gesien en