Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 305]
| |
Hoe ry die here,
Die grote menere?
Op edele rosse,
Op skimmels en vosse -
So ry die here,
Die grote menere.
Hoe ry die dames,
Die skones, die skames?
So saggies en soetjies,
So voetjie vir voetjies -
So ry die dames,
Die skones en skames.
Hoe ry die boere
Al met hulle roere?
Trippeldraf, op en af,
Jaaggalop, af en op -
So ry die boere
Al met hulle roere.
Hoe ry die klonkies
Op kalwers en donkies?
Al agterstevoor:
Een hand hou die oor,
Een hand hou die stert -
So ry hul te perd!
|
|