Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Goue bruilof (Iets edelaardigs al te fijn kan immers niets dan vrouwelik zijn. - Die versie is vir Oupa en Ouma se kleindogtertjie.) Toe Oupa by die kerkdeur kom, Toe was hy mooi die bruidegom; En aan sy arm kom Ouma uit En raai, toe was sy mooi die bruid. En al die baie mense daar Wens hul geluk - die jonge paar. [pagina 302] [p. 302] ‘'n Liewe bruid, 'n mooie paar,’ Sê al die baie mense daar. Dit was al vyftig jaar gelee, En nog moet sy 'n traan afvee; Nog kom 'n blos oor haar gelaat As Ouma van haar troudag praat; En Oupa self se lippe bewe, Al was dit toe nog vanmelewe. Maar Mammie sê: Van jonk tot oud Bind hul tesaam 'n band van goud. Dit het gehou deur smal en breed, Deur vyftig jaar se lief en leed, Deur dik en dun van toe tot nou - Die goue band van liefde en trou. Daarom kyk Oupa haar nog aan Asof sy voor die preekstoel staan; Daarom lê sy haar hand op hom Soos op die jonge bruidegom; Daarom kan hulle nou weer hier Op hulle oudag bruilof vier: Van binne warm, van buite koud; Van buite silwer, binne ... goud! Vorige Volgende