Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 291] [p. 291] Kierang speel (Met ingehoue trane, wetende dat kierang sal braai) ‘Waarom speel jul twee nie soet nie? Dwarstrek is wat jul nie moet nie.’ ‘Ek wil graag, maar Boetie wil nie. Hy's nie twee minute stil nie. Mammie kan jou nooit verbeel nie Hoe selfsugtig hy kan speel nie. Staan hy daar nog so bedees, Ek moet altyd minste wees. Speel ons motorongeluk, Dan ry hy die kar aan stuk; Maar hy's darem póéliesman, Vra ons nommer, naam en van. Dan kom hy die mense haal, Neem hul na die hospitaal. Ek mag nie eens dokter wees Om die wonde te genees. Sterf een, dan's hy predikant, En dan praat hy land en sand. Nou wil hy nog koster wees Om die doodslys af te lees. Ek moet stil sit en tevree, Diepbedroefde, swaarbeproefde Arme motor-weduwee. 'k Weet dis lelik om te klik, Maar ek is al moeg gesnik.’ ‘Nou ja, boetie Slim-en-Sterk, Soos jy speel, moet jy ook werk: Mammie hoef nie eens te vra nie Wie vir haar sal water dra nie; Wie vir haar die stoep sal vee nie; Wie die hoenders kos sal gee nie. Sustertjie, sit jy nou daar Met jou handjies oormekaar; Kyk hoe boetie Fluks-en-Sterk, Hoe hy vorder met sy werk!’ Vorige Volgende