Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 289] [p. 289] Die strandlopertjie (Aan die strand kom die angsvalligheid van die moeder en die ongeërgdheid van die onbedorwe brokkie albei tot hul reg.) Driesie van die binneland Kom in Maartmaand na die strand - O die koele heerlikheid, O die koninklike tyd! Hy was daar geen week gewees nie Of hy had geen watervrees nie. Denkend aan sy water-reg, Raak hy soos 'n groot speld weg. Mammie wis nie beter as Dat hy in die huis nog was; ‘Maar die stilte is nooit pluis nie: Dries is nooit meer by die huis nie.’ Hier gesoek en daar gesoek, Elke draai en elke hoek - Van die soek kom niks tereg: Dries was sommer baie weg! Skrik sy haar nie byna grys nie? Wat maak angs 'n mens nie wys nie! Byna buite haar verstand Snel sy na die waterkant - ‘Klaar verdrink en koud soos ys,’ Maak die duiwel haar al wys; Onderwyl speel hy met sandjies - Witte seesand in sy handjies. ‘Dries, jou liefste kleine bees, Waar was jy so lank gewees?’ Vra sy met ontroerde stem. ‘Mammie, ek het gou gaan swem.’ ‘Tog nie met jou broek en baadjie? Tog nie met geen enk'le draadjie? [pagina 290] [p. 290] Jy alleen? In vredesnaam!’ ‘Nee, met ander kinders saam.’ ‘Watter ander kinders, Dries? Was dit seuns of meisietjies?’ ‘Mammie, ek weet self nie wat nie: Hul't nie kleertjies aangehad nie!’ Vorige Volgende