Voorwoord aan die ouer
Dit is nie elke digter wat vir kinders kan skryf nie. 'n Kind vereis ritme, musiek, doodernstige humor, en 'n verbeelding net so fyn en net so volop as sy eie. Visser het dit besit, en die gevolg is dat sy rympies vir die kleinspan, wat hier in 'n boek versamel is, as 'n voorbeeld kan staan van wat sulke goed behoort te wees.
Daar is in hierdie gediggies niks wat die minste aanstoot kan gee nie, en baie wat van die grootste nut vir die leser, al is hy oud of al is hy jonk, kan wees. Raaksienery, polsende gevoel, egte sentiment, nie die olieagtigheid wat daarvoor deurgaan nie, is in hierdie digbundeltjie te vind; en daarom beveel ek dit hartlik aan by elke ouer en elke onderwyser en elkeen wat met kinders te doen het en wat graag iets goeds wil hê om aan die kind voor te lees.
C. Louis Leipoldt