Voorrede aan die kinders
Kinders,
Of julle groot of klein is, of julle in die sub-standerds of in die middelbare skool is, julle sal, as julle werklik nog kinders is en nie grootman wil speel voor dit tyd is om grootman te word nie, hierdie rympies van dokter Visser mooi vind, net soos ek, wat al lankal oor my kindertyd is, hulle mooi vind.
Dokter Visser is dood. Hy het gesterf toe hy nog taamlik jonk was, ná 'n lewe wat baie hard en werksaam was. Daar is duisende wat hom liefgehad het omdat hy 'n eersteklas dokter was, en omdat hy hulle gehelp het en hulle verligting gegee het in pyn en siekte; daar is ook duisende vir wie hy plesier gegee het met sy gediggies; en daar sal later nog meer wees, want 'n goeie gediggie bly lewe, terwyl die beste dokter doodgaan en soms vergeet word.
Dokter Visser het die meeste van hierdie rympies vir sy eie kleinspan geskryf. Hy het onthou hoe hy self, toe hy 'n kind op die plaas was, waar hy nie boeke kon kry nie, nie na die bioskoop kon gaan nie, en nie al die vermake gehad het wat die meeste van julle nou besit nie, moes sukkel en sug om iets te kry wat hy kon opsê en mooi vind. Daarom het hy hierdie erfenis aan sy eie kinders en aan julle nagelaat. Waardeer dit, want so 'n erfenis is meer as goud werd. En die beste waardering is dat julle dit uit die kop leer, en dit opsê, soos hy self dit opgesê het, sodat die gediggies ‘sing’, en julle selfs uit die sangerigheid daarvan julle kan verbeel dat dit musiek is wat die dokter nagelaat het en wat julle nou nog hoor.
C. Louis Leipoldt
Kaapstad
15 Julie 1930