Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 259]
| |
Die hele wêreld was sy plaas
So ver die sirkel rondom strek.
Van alles om hom was hy baas -
Daar was geen baken, draad of hek.
Die groen geboomte was sy huis;
En waar hy kom, daar was hy tuis.
Gewoon het hy op Port Sint Johns -
In ons taal: Paradysfontein.
Hy had geen plaag, geen las soos ons
Van motor, telefoon of trein.
Geen hof, geen bank was in die land.
Geen wetsagent, geen predikant.
Hy wis ook niks van so 'n ding
As eksteroog of skeer-ellend';
'n Kleremakersrekening
Was hom van toeka onbekend:
Die eerste, beste boom bevat
Vir elke dag 'n nuwe blad!
Volmaak geluk - so dink 'n mens:
Hy't alles wat sy hart verlang.
Tog brand in hom soos vuur 'n wens:
- Die allenigheid het hom gevang -
‘O, Skepper,’ smeek hy vroeg en laat,
‘Één skeppie nog: gee my 'n maat!’
‘Dit is nie goed nie dat die mens
So eensaam en alleen moet wees;
En, tot vervulling van jou wens
Om wederhelf en goeie gees,
Neem Ek uit jou 'n kotelet:
'n Ribbebeen met vleis en vet.
| |
[pagina 260]
| |
Gaan in die Umzimvubu was
En lê jou op die seesand neer
En vier-en-twintig ure vas
Alvorens Ek kan opereer:
'n Rib-reseksie - sonder smart -
Die vyfde, links, na aan jou hart.’
Wel, so gesê en so gedaan.
Toe Adam daar weer wakker skrik,
Sien hy vir Eva vóór hom staan
Met skugter, neergeslae blik.
O wanhoop van die kunstenaar
Wat niks verberg, niks openbaar!
O heerlik' land, o heilryk' lot,
Van ewig-koele lenteweer
En groene tempels van genot,
Van berg en bos, rivier en meer,
Van silwer strand en bloue see ...
Tog werd hy later ontevree.
Die trekgees het hom baasgeraak,
Al pleit ook Eva sag en soet
(Soos elke vrou vandag sou maak):
‘Hier is ons huis, hier gaan dit goed ...
Gelukkig hier ons klein gesin -
Waarom die onbekende in?’
Altrekkersvader, eerste Boer!
So het sy eiesinnigheid
Tot omstreeks Kokstad hul gevoer.
Te laat kom toe berou en spyt.
Helaas! ... Die paradys verloor ...
En Ongeluk-se-NekGa naar voetnoot1 lê voor.
| |
[pagina 261]
| |
‘Onthou jy nog die eerste dag
Daar onder in die paradys?
Hoe jy geskrik het vir die Nag
Totdat ek jou die sterre wys?
Die hemel,’ sug hy, ‘was om ons -
Om jou en my - op Port Sint Johns!’
‘Kom rus,’ sê Eva ná die reis;
‘Daarna kan ons oor alles praat.
Ek het ons heerlik' paradys
Met leë hande nie verlaat,
Maar iets van alles saamgebring:
My stem: Hoor jy die voëltjies sing?
Bloei op my wange nie die roos?
Is nie my oë hemelblou?
My glimlag en my traan van troos
Nie sonneskyn en môredou?
Kan ek nie, kom dan wee of wel,
Die paradys vir jou herstel?’
‘Die groot heelal en ek daarby,
Met niks vir boumateriaal -
Dit wou gedaan wees,’ antwoord hy.
‘Maar jy ... my rib? Dis kolossaal!
Dit is vir my eers wonderlik,
Jy staan alleen ... uitsonderlik!’
|
|