Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Wit en swart Die Teufel auf der Himmels Wiese. Rudolph Baumbach Die kleine kinder-engeltjies Moet almal skool toe gaan, Elk met 'n goue ligkrans om En witte vlerkies aan. Hul skryf met goue griffeltjies En op 'n silwerlei; Die fraaiste sprokies hoor hul daar En sing 'n lied daarby. G'n ABC of Twee-maal-een Hoef hulle ooit te leer; G'n jaartal en g'n syfertjies Maak hulle hofies seer. Namiddag Woens- en Saterdag Word hulle toegelaat Te wandel met die Melkweg op, Die mooiste hemelstraat. Maar Sondagagtermiddag is Die heerlikste van al; Dan speel hul voor die Hemelpoort Totdat die awend val. [pagina 256] [p. 256] Puur goud- en silwerblommetjies Groei op 'n blou terrein, En mense noem hul ‘Sterretjies’ Wat in die donker skyn. Sint Petrus sit daar by die poort En laat hul in en uit. ‘Kom t'rug,’ beteken dit as hy Sy goue Sleutel fluit. Want nie te ver en nie te lank Laat hy hul uit sy oog. ‘Speel 'wegkruip' met die wolkies, maar Hou jul vlerkies droog.’ Een warme dag het hy gedut - Dit het hul gou gemerk; En toe - presies soos kinders doen - Ken hul g'n paal of perk. Tot daar waar ver is, vlieg hul rond, Selfs waar Verbode staan; Plat op hul magies lê hul daar En skou die afgrond aan, Waar kleine kinderduiweltjies Speel in 'n swarte klomp, Met horinkies en spitspuntstert (Net één se stert was stomp). ‘Ag, Engeltjies, kan ons nie net 'n Bietjie bo kom speel? Hoe netjies ons ons kan gedra, Kan niemand hom verbeel.’ Kajuitraad word daar toe gehou, Eenparig was die gees: ‘Met kleine duiweltjies te speel Sou nie onaardig wees.’ [pagina 257] [p. 257] En Jakobs-ladder word gehaal, Nie sonder sweet en swoeg, En in die diepte neergelaat - Gelukkig lank genoeg. En een, twee, drie van onder af Die leer op klouter daar, Elk met sy stertjie in sy hand, 'n Swart kabouterskaar. Vereers het alles goed gegaan: Hul speel so soet as stroop; Maar skielik was die duiwel los, En alles raak oorhoop. Een trek die mooiste veertjies uit 'n Engeltjie se vlerk, Die ander rol 'n ligkrans rond, Doen enig duiwelswerk. Die blomme van die hemelsveld Die trek hul roek'loos uit Metdat Sint Petrus wakker skrik En op sy Sleutel fluit. Maar toe hy al die onraad merk, So woedend kwaad was hy Dat, as hy nie onsterflik was, Hy kon beroerte kry. Wat hom die bloedigste vererg, Was nie die groot lawaai, Maar dat hul skewe bekkies trek En hard soos hane kraai! Die engeltjies was bleek van skrik, Sint Petrus rooi van toorn. ‘Mars daad'lik in!’ beveel hy streng En blaas die alarmhoorn. [pagina 258] [p. 258] Die swart kabouters laat hy vang En vat hul aan die nek En laat hul soos klein katjies val T'rug in die Ander Plek. Berou het elke engeltjie Die dag, en al sy werk: Drie weke moes hul - vir hul straf - Loop sonder krans of vlerk. Drie weke nooit die poort uitgaan, Pal in die hemel bly! Gelukkig - alles het 'n end - Ook straftyd gaan verby. Gelukkig ook - die blommetjies Het op die aard' geval: 'n Madeliefie en Sonneblom, Die sterre van die dal. Dié kan 'n diep geheim vertel (Sê net mooi: ‘Asseblief’): ‘Hy't nie - hy het, hy't nie, hy het - Hy't nie - hy het my lief.’ Vorige Volgende