Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die Duisendpoot Similia similibus curantur. Pas op, pas op vir die Duisendpoot: As hy jou byt, lag jy jou dood. * Hy byt klein Jantjie op 'n dag; Daar kry die kind die Lekkerlag: Dit kielie hier, dit kielie daar, Dit kielie oral aanmekaar, Sy voetsool, neus, sy hart se sak, Dit kielie in sy kieliebak. Sy mond rek wyd, sy tande wys; Hy kry inwendig hoendervleis. Hy rol, hy krul, hy hou sy maag. [pagina 253] [p. 253] Ha-ha! Daar skeur sy hemp se kraag; Ho-ho! Daar klap sy boonste knoop; Hie-hie! Daar vlieg sy baadjie oop. Sy are swel, sy kleur word blou; Die lagbui word 'n wolkbreuk nou. Sy vader skrik: My liewe tyd - Vanwaar nou dié lagsinnigheid? Sy moeder kerm: Ag, wat is dit? Nog nooit had hy die Ritteltit. Die buurvrou loer en sê: Ek wed Lagstuipe - dit is wat hy het. Die buurman luister op sy stoep En gaan die naaste dokter roep. Die dokter bring lanset en spuit Eers in sy arm, toe in sy kuit. Toe lag hy eens so erg: Dis mis - Dis glad nie waar my lagspier is! Toe mompel dokter Oudedoos: Ek vrees die saak is hopeloos. Toe kom ou juffrou Net Natuur En sê: Probeer my waterkuur. Maar wat ... hy't al die put se water In 'n ommesientjie uitgeskater. Toe kom die homeopátie-man - Geen siekte of hy weet daarvan. Hy't simpatie, hy weet 'n plan: Similia similibus ... Mevrou, sê hy, stel u gerus. Ek het al mense in die wandel Met ekstrak van verstand behandel. 'k Moet hom 'n grap of twee vertel, Dan mag hy van die Lag herstel, En spoedig ook: hy's baie moeg - Te meer daar hy tot berstens loeg. [pagina 254] [p. 254] Ek ken tog nog 'n grap of wat; Oud zijn zij en der dagen zat. (Vol twyfel antwoord Ma: O, so? Maar moedig sê Pa: Wil jy glo!) Wel, so gesê en so gedaan. Die eerste grap tas hom al aan; Die tweede laat hom effens gril; By drie raak hy betreklik stil; By vier begin hy geeu en gaap; By vyf was hy al aan die slaap. Bleek, uitgeput daar op die bed - Maar almal juig: Hy is gered! 'n Stok-ou grap's 'n goeie ding Teen Duisendpootvergiftiging. Pa sien die grap nie heeltemaal, Want hy moes die gelag betaal. * Pas op, pas op vir die Duisendpoot; As hy jou byt, lag jy jou dood! Vorige Volgende