Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Klein woelwater Betrag, sê tant Hettie, so 'n kleine spektakel! Dat hy nog nie dood is, is 'n reine mirakel. Verwoesting is hy vir sy skoene en klere: Hy klim en hy klouter - hy gaan so te kere. Ek kan nie meer praat nie, en 'k wil nie meer slaan nie; Ek weet nie waar kom so 'n stout kind vandaan nie. 'n Woelwater - daar is geen huis mee te hou nie; Geen man weet die kommer en sorg van 'n vrou nie. 'n Halfuur gelede nog netjies en skoon Gewas en gestryk van sy kop tot sy toon, Nou skaam ek my dood as 'n vyand of vrind Sou vra: Is die swarte Masbieker jou kind? En ander week gaan ons na tante De Vries. Haar buurmense noem haar tant Hannie Presies. By haar sien jy nimmer 'n stoffie of rafel, 'n Krummeltjie onder, 'n vlek op die tafel. Ag, Jannie, onthou tog vóór Mammie vergeet, [pagina 252] [p. 252] By haar moet jy nooit probeer beetslaai te eet. Daar's alles net só, en jy mag aan niks roer. Jy kan jou gewoonweg sit spieël in haar vloer. 'n Ding op sy plek, elke mens op sy pos, En klokslag vir alles, vir werk en vir kos. Wie daar nie behoorlik kan pas op sy tyd, Is geelrys en poeding en soetkoekies kwyt! Van toegee en oorsien's by Tante geen sweem - 'k Wil sien wie haar huis ooit op horings sal neem! Sy't lankal haar enigste kindjie verloor; 'n Man het sy wel, maar hy trap in sy spoor. Sy't alles so netjies, so blink en sekuur; 'n Morsvarkie sal sy geen oomblik verduur. Ag, Mammie, sê Jannie met ogies betraan, Vir wat moet ons na die kwaai tante toe gaan? Ag, Moetsie, ons bly tog maar liewers hier tuis; Vir wat moet ons kuier by 'n vreemde ou huis? As Mams nie kan wag nie tot Jannie eers groot is Dan wag ons maar net totdat Tannie eers dood is. Vorige Volgende