Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 250] [p. 250] Dolce far niente Die dagdroom In die land van Weet-nie-waar, Land van soet verlange, Is die koekies altyd gaar, Staan die ryperd altyd klaar, Kouend aan sy stange. Waarheid is daar elke droom, Gulde al die kanse, Goue visse in elke stroom, Rype vrugte aan elke boom, Bruin gebraai die ganse. Op die hoogte van Wel-eer, Trots en hoog verhewe, Staan die burgslot Waar-nou-weer Langs die Niemendalse Meer Stil en sonder lewe. Niemand kan die poort genaak, Niemand dring daarbinne: Honderd oë het die Draak Wat vir Hartewens bewaak, Slapende vorstinne. Altyd slapend, nag en noen - Deur 'n toweresse - Tot 'n ridder flink en koen Drie maal op die mond haar soen, Spreek: ‘Ontwaak, Prinsesse!’ In haar wange styg die gloed As sy die oorwinnaar Met 'n vreugdekreet begroet, Noem haar Ridder Vol-van-Moed, Haar getroue minnaar. [pagina 251] [p. 251] Vurig kom ek aangesnel Op my Rossinante, Steek die Draak deur been en vel Met my heupswaard Durandel, Blink met diamante. Drie maal soen ek die Prinses: ‘Skoonste aller vroue ...’ ‘Jan,’ roep Meester, ‘leer jou les! Doen jy voortaan nie jou bes, Kry jy harde houe!’ Waarom moet 'n mens tog leer? Waarvoor is daar lesse? Weg is trotse Waar-nou-weer Langs die Niemendalse Meer Met my skoon Prinsesse! Vorige Volgende