Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die liewe onskuld Zalig, o zalig, een kind nog te zijn. Nog dink ek aan die dae - Die dae van ons jeug, Van bly en blanke onskuld, Van argelose vreug. 'k Onthou die ou apteker, So bietjie krom en skeel; Hy kon ons gif gegee het As ons toktokkie speel! Hoe rein was toe ons hartjies, Hoe suiwer ons gemoed! Ek sien ons in die kerk sit So sedig, vroom en vroed. Ek sien nog die ou koster So bitsig as 'n draak: Ons het net aan die markklok Sy hondjie vasgemaak! Dié dae had ons, kinders, Nog vrese en ontsag Vir ouers en vir meester - 't Was anders as vandag. Was meester nie onthuts nie En stuurs 'n hele week - En dit oor één ou speldjie Wat in sy kussing steek! [pagina 249] [p. 249] Dié dae het ons, kinders, Aan moedersknie geleer: Eenvoudig of armoedig, 'n Ou mens moet jy eer. Maar het ons nie gelag nie Toe ou tant Siena Smook Haar byna doodgeskrik het Vir ons pampoenskilspook! Ons was nog onbedorwe, Nog eerlik en opreg, So gaaf in doen en late, So skoon ons lewensweg. Hoe lekker was die vrugte - Ek kan daar nog van droom - Veral dié wat gebuit was Van Dominee se boom! Hoe vrolik was ons lewe, Hoe prettig ons plesier; Hoe vry van alle wreedheid Teenoor èn mens èn dier. Maar was dit nie 'n grap nie Toe ons die Jood se perd Die voorstraat op gejaag het Met klappers aan sy stert! Nooit sien ons weer dié dae Van onskuld en geluk Voordat die lewenslaste Swaar op ons skouers druk. Vergeet is lank die trane, Die droefheid van die jeug - Maar nooit die kwajongstreke ... O liewe, liewe deug! Vorige Volgende