Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermdNa die strydHulle kom van die land waar die adelaar vlieg
In die skaduwee van die Himalajas;
Van die oer-oue HindGa naar voetnoot1, van die mensdom se wieg,
Van MahatmasGa naar voetnoot2 en bruin MaharajasGa naar voetnoot3.
Ver, die blou vlakte oor, is die burger gevoer,
Deur die noodlot gered en gevange;
Uit sy ballingskap eindelik keer weer die Boer
Na die land van sy liefde en verlange.
Die klein dorpie in Transvaal is in rep en in roer
By die angstig verwagte ontmoeting;
Dis 'n vrou en haar man, dis 'n suster en broer -
Vol van vreugde en verdriet die begroeting.
Ook tant Alie staan daar vir haar Bennie en wag.
Hy was al wat die oorlog gespaar het;
Net 'n lokkige knaap met 'n vrolike lag -
Dis die beeld wat haar hart steeds bewaar het.
| |
[pagina 232]
| |
O die wederontmoeting - hoe snel klop haar hart!
Dank die Here! Sy het nog 'n Bennie.
So verwese van hartseer, van swaarkry en smart
Sal hy wellig sy moeder nie ken nie.
Maar, helaas, sy verneem tot haar oormaat van ramp
Daar's geen weersien vir haar, geen verblyding:
‘Hy het twee jaar gelede ontvlug uit die kamp,
En van toe af geen taal meer of tyding!’
Vir 'n oomblik was alles pikswart voor haar oog,
En sy hoor niks, al was sy nie doof nie.
En sy sak inmekaar met haar hande omhoog:
‘Ag, ek weet nie wat skeel aan my hoof nie!’
Slegs 'n strooi se gewig breek uiteind'lik die rug
Van die arme beswykende kémel;
Skier verstandeloos het sy weer huis toe gevlug -
Weggevlug van gewoel en gewemel.
Maar die volgende dag was sy weer by die spoor;
Elkeen vra sy: ‘Sien jy nie vir hom nie?’
‘Hou maar goeie moed: eendag sal ons van hom hoor -
Maar vandag het hy nog nie gekom nie.’
So vir maande daarna het sy altyd gegaan -
Ook geen dag dat sy nie staan en wag nie;
En die spoorwegbeamptes, met meely begaan,
Sê maar troostend: ‘Nee, nog nie vandag nie.’
Op 'n dag, onverwags, het die tyding gekom
Dat hy veilig in Kaapstad geland het.
As matroos was hy twee maal die wêreld al om
In 'n seilskip wat later gestrand het.
Met die nuus kom die leraar die huis ingesnel,
En hy dink: ‘Sal die Heer nie miskien nie
Haar verstand'lik' vermoë volkome herstel
As sy Bennie, haar liefling, weer sien nie?’
Uit die trein stap 'n forse, gespierde jongmens,
Bruin gebrand en gehard in die lewe.
‘Kyk, ou moeder, hier het jy nou eind'lik jou wens ...’
Maar haar lippe beginne te bewe:
| |
[pagina 233]
| |
‘Met die wildvreemde jonkman, wat het ek te doen?’
‘Ag, ou moedertjie, kyk, ek is Bennie!
Ek het baie verlang - kry ek nie eens 'n soen?’
Maar sy kon hom volstrek nie herken nie.
‘O, hoe bitter, o Here, hoe swaar is my lot!
Het ek liewer my nie so verbly nie.
Dit is wreed, o, te wreed met my leed so te spot!
Ag, het niemand dan jammer vir my nie?
Nog nie sewentien jaar, maar tog wou hy gaan veg.
Hy was sommer 'n kind nog, klein Bennie,
En sy laaste woord was: Dis vir Vryheid en Reg!
Sal sy moeder hom dan nie meer ken nie?’
Na die stasie maar altyd in hitte en kou,
Weer en wind, wat dit haar ook gekos het.
Was dit tyd vir die trein, dan kon niks haar weerhou -
Tot die Dood haar genadig verlos het.
Arme moeder, die seun wat jou drumpel verlaat -
Hy die kind van jou trane en gebede,
Die onskuldige knaap met sy ope gelaat,
Kom hy ooit weer - in oorlog of vrede?
|