Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Dapper en ek Dapper, my ryperd, jy weet ek word oud - Dertig jaar oud al en nog nie getroud - Nog nie getroud nie - en dit is 'n fout. Wil maar nie kan nie, Dis nie die plan nie, Nie vir 'n man nie, Een met 'n ryperd, Een met 'n vryperd, Dapper, soos my perd! Mens kan te lank wag, so lyk dit vir my. Sal ons so 'n plan maak, of sal ons maar bly? Dapper, jy's reg: ons moet opsaal en ry! Ons het gery tot by Karnemelksvlei - Karnemelksvlei, waar die ryk nooientjie bly. Ringe, diamante - dit alles het sy. Alles voorspoedig, Geld owervloedig, Maar te hoogmoedig. Sy mag wel gaaf wees, Sy mag wel braaf wees: Ek wil geen slaaf wees! [pagina 219] [p. 219] Sien jy, 'n skone klein waspop is sy? Wat is die plan, ou maat? Sal ons hier bly? Reg al weer, Dapper: dis opsaal en ry! Dwarsoor die berge by Hamerkopkrans Het ek met Dapper die werf ingedans. Mooi was sy, enigste kind van oom Frans; Maar 'n parmantjie, Regte astrantjie, O liewe landjie! Sy mag wel fraai wees, Nie te versmaai wees, Sy sal te kwaai wees! Dapper, hoe lyk dit hier? Sal ons die paal, Soos op die resiesbaan, dié slag ook haal? Reg geraai, Dapper, ek bring al die saal! Weg van oom Frans af na Heuningneskloof - Naam van die plaas het iets soets ons beloof: Ons wou die bynes sy heuning ontroof! 'k Weet nie juis wat nie, Dit nie of dat nie, 'k Hou van haar ... glad nie! Stof in die hoeke, Neus in die boeke, Moeder is ‘Moe-ke’! Sy sal te slim wees om ete te kook; Daarvan sal Saaiplaas se skoorsteen nie rook. Kies jy die wapad, ou Dapper? Ek ook! Dapper, hoe lyk dit jou moed word al klein? Donker kom eers as die sonlig verdwyn. Daar staan die blom van Mooimeisiesfontein! Alles so sind'lik, Sy so beminlik, Vrolik en vrind'lik. Klein bietjie mallig, Maar so lieftallig, Vroulik aanvallig. [pagina 220] [p. 220] Dapper, ou twyfelaar, kry jy weer hoop? Iemand het hierdie plaas suiwer gedoop. Verder hoef jy nie vanaand meer te loop! Snel spoed die jare in ylende vlug: Twee boeties speel op ou Dapper se rug - Goedig verdra met 'n stertwaai en sug. Lekker kerjakker, Elke klein rakker, (Dapper's al makker!) Krulkopkabouter, Opperste stouter, Opklim en klouter; Dapper is speelmaat, en ryding, en trein - Kastig gaan kuier by oupa Kirstein; Oupa wat woon ... op Mooimeisiesfontein! Vorige Volgende