Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 215] [p. 215] Die purper iris Aan Marie Lente, lente currite noctis equi. 'n Prins was ek in Oosterland, Waar hooggemaste skepe gaan Van son-vergulde somerstrand, Oor witgepluimde waterbaan, Na wonderlande oor die see Met weelde van die Paradys; En seewaarts met die seewind mee Het my verlange steeds gereis Te soek gelyk 'n Heil'ge Graal 'n Droombeeld skoon - my ideaal. Wat is 'n koninkryk, 'n troon Van edelstene en ivoor? 'n Septer en 'n goue kroon En hartsverlange gaan te loor. Vaarwel, die koorsige plesier, Die holle harte van 'n hof: Welkom, my pelgrimstaf, my lier! My siel besit veel ryker stof: My lied sal klink van land tot land - Van Balsora na Samarkand! Ver het die swerwer rondgedwaal Tot herders aan Orontes vloed Sy sange vuriger herhaal, Betower deur hul vreemde gloed; Tot maagde aan die Sjalimaar En trekkers met die karavaan, Tot elke Oosterse basaar Die pelgrim ken, sy lied verstaan - Sy lied wat nuut die inhoud dra, Oud soos die weg na Jakatra! [pagina 216] [p. 216] ‘Slegs een maal elke duisend jaar Bloei purper in die lotuskelk Van heilige Manassowaar - 'n Iris wat nooit weer verwelk. Al wie haar duister-skoon aanskou, Ontluikend in Arjanas straal, Dié sal volmaak geluk behou, Nibbanam vir die siel behaal.’ So het die Brahmin self verklaar - En vóór my blink Manassowaar. Die meer weerspieël die groene woud, 'n Wuiwend' watervisioen; Die hemel straal met louter goud: Dis liefdes hoë, goue noen. Wit voëls vorm 'n priesterry, 'n Skugter wildsbok kom en drink, En aan die owersy staan Sy, As in gedagte diep versink, Waar lotusblomme dryf en droom, Najade van die watersoom. 't Was of 'k met vleuels opwaarts vaar, Verhewe bowe aardse stof, En aldeur in haar oë staar Tot binne liefdes binnehof. Nòg tyd nòg plaas het meer bestaan - Deurlugtige bestemmingsdag; In goue glorie rys die maan - Maan van geluk so lank verwag, En purper bloei daar op die meer Ná duisend jaar die Iris weer! Loop stadig, perde van die nag; Vertraag, o ure, julle gang; Staan, sterre, staan in erewag; 'n Ewigheid is nie te lang - ‘Tot dag breek en die skadu's vlug’ - As hoë liefde hoogty vier. [pagina 217] [p. 217] Laag hang die rooi maan in die lug, En ek ontwaak en vind jou hier En skou weer in die oë trou Van my aanbidding ... toe en nou! Vorige Volgende