Inleiding
αι δε τειμ ζωουσιν αηδουες ...
Ja, maar jou nagtegaal-stemme die lewe en nooit sal die Dood nie
Rower van alles wat leef, hul in sy kloue verprooi.
‘Die digter,’ het Shelley gesê, ‘lig die sluier van die wêreld se bedekte skoonheid af.’ ‘Die poësie,’ klink dit by 'n ander, ‘is vertolking van die lewe.’ En as ons uit al die menigvuldige definisies van die digkuns net hierdie twee rigsnoere kies, sal ons enigermate altans leer om te onderskei tussen kuns en gekunsteldheid, tussen die klinkende skel en die musiek wat styg uit die harmoniese en fynbesnaarde gees.
Hierdie dubbele toetssteen toon die goud in die poësie van A.G. Visser. Waar die meeste mense hul paadjie bewandel onbewus van ryke wonder van die Heelal - die vreeslikheid van die lewe wat nogtans heerlik is, die belaglikheid wat nogtans beminlik is, die weemoedigheid en die humor, die kleureprag, en die musiek van die sfere - kom die digter met sy towerstaf en laat die benewelende sluier verdwyn en skenk ons 'n openbaring wat ons lewe ryker maak en ons siel verheug.
Saam met baie wat dierlik en onedel is, kan ook in ons natuur bespeur word 'n drang na skoonheid wat ons help (soos Paulus sê) om te bedink die dinge wat verhewe is. En wat sê Plato omtrent hierdie vreemde bekoring wat die skoonheid op ons in groter of kleiner mate uitoefen? ‘Ek sê dan dat elke menslike siel eertyds 'n gesig gehad het van die werklikheid ... maar min is die siele wat hier op aarde daardie gesig kan onthou; en hierdie geeste, wanneer hul onder aardse dinge 'n afbeelding van die hemelse aanskou, word deurtril met 'n skok en in vervoering gebring, en wat hul voel weet hul nie, en dof is hul begrip daarvan ... so onhelder is ons menslike sintuie dat min mense, en met moeite, in die namaaksel die beeld van die ware erken. Tog was skoonheid eertyds skitterend klaar ... toe ons nog ongewond was deur al die droefhede wat ons in later tyd gewag het.’
Wat ons ook al mag dink van Plato se voorstelling, seker is dit dat die digter onder die weinige is wat daardie hemelse skoonheid kan bespeur en meedeel deur sy kuns.
Ware skoonheidsin ken geen geografiese grense nie: hy vind geestesverwante in alle tye, in alle lande. Seker sal die digter 'n nasionale stempel afdruk op alles wat hy skrywe, en natuurlik sal nasionale gevoel 'n baie groot rol speel by iemand wat skryf in 'n tyd van stryd, maar tog sal hy hom nooit blind staar in een rigting nie, en hy, meer as ander, sal die menslike gees sien ‘sub specie aeternitatis’ - in die lig van die ewigheid. So het dan