Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Canto Lamentoso in Ab Uit my Pelgrimsjare 'k Verdien 'n martelaar se kroon Na al my folteringe: Die dametjie wat bo my woon - Miskien ook my verdiende loon - Leer net Musiek en Singe. Vertwyfeld sug ek menigmaal: ‘Erbarm U,’ - maar in vano - ‘Ag, handel sag met die pedaal; Speel die vermaledyde skaal Eén liewe maal piano.’ [pagina 198] [p. 198] Die sleutel van die tempeldeur Het sy nie - cruda sorte. Al is die toonsoort ook majeur, Haar soort van toon bly steeds mineur - Nee, sing is nie haar forte. 'k Verduur die liewe, lange dag Mozart, Beethoven, Handel; Etudes, morceaux tot in die nag; Maar'k sal - één fuga weer van Bach - My bed opneem en wandel! Nooit rus die Russe -ski en -of; Al het sy min besef-ski - Wat nou? -, sy speel Rachmáninof, Tsjaikowski, Rimski-Korsakof ... O skim van Paderewski! Ek het die virtuoos verwens. Met watte in my ore: ‘Geen musikaal-begaafde mens’ - 'k Erken die onbeskaafde wens - ‘Worde weer op aard' gebore!’ Nou stilte na die storm. So rus Dan eind'lik, ruwe Nore: Grieg, Palmgren en Sibelius. Slaap kom my moeë oë kus ... Da Capo ... weer van vore! Kon ek net vir 'n week of twee Klavier speel soos Busoni, Sforzando sempre speel - ja-néé, 'k Sou my gevoelens uiting gee Con gran espressione! [pagina 199] [p. 199] Ek dink al in solfeggio, In frase en nuance; Ek droom al in arpeggio, Die note dans prestissimo Macabre dodedanse. Kon dit wel erger? 'k Vrees dit kon. Sy kon my skoon verdwaas het: Sy kon die grote bombardon, Sy kon die mond-melodion, Die doedelsak geblaas het! En dan is daar 'n ander ding, Dink ek by my alleentjies: Kon sy soos 'n kanarie sing, Had tien teen één die stomme (?) ding Ook nog kanariebeentjies. 'k Verneem ... nog net drie maande meer, Dan doen sy haar eksamen; Dan gaan sy arme kleingoed leer - En dié sal haar weer tormenteer ... Lof, Halleluja, Amen! Vorige Volgende