Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 196]
| |
Die wêreld is so ingerig:
Te arbeid skyn nie meer as plig,
Vas staan die reël wat nimmer faal:
Wie hardste werk, word minst' betaal.
Op dié punt voel ek baie sterk:
Dis grote gekheid om te werk.
Twee mense trou en lewe saam:
Een huis, een hart, een sin, een naam.
Maar skielik word die liefde dof,
En dan verklaar hul voor die hof:
'n Oorlas was die man of vrou:
Dis niks as dwaasheid om te trou!
Die rykste man, die grootste vors
Kry ook maar honger, word ook dors,
Kan ook maar (moet dit nie vergeet!)
Op een bed slaap, net drie maal eet;
Word ook maar siek, ‘geef ook die gees’:
Dis stommiteit om iets te wees!
'n Mens kom die ou wêreld in,
Self onbewus van jou begin;
Jy groei en netnou is jy groot;
Jy kwyn en netnou is jy dood.
Die speletjie - wat gee dit tog?
Gebore word is pure bog!
|
|