Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende In den beginne (Indiese legende) ‘Alzoo sprak de Heilige: Ik heb de wateren Nara genoemd en omdat zij mijn Ayana (verblijfplaats) waren, daarom ben ik Narayana, de Schepper aller dingen.’ Vedas Aarde, son en maan en sterre, Heel die Skepping was volbrag, En die son sink stadig weswaarts Op die laaste skeppingsdag. Twee-twee loop die diere almal - Net die Man wag vir sy maat; Maar Narjana had net stukkies Hiervan, daarvan oorgelaat. In gedagte diep versonke Peinsend sit die Skepper nou. Met 'n glimlag om Sy lippe Vorm hy toe die eerste Vrou. In haar lede werk hy kunstig Van die rondheid van die maan En die ewig-skone glimlag Van die moeder-oseaan; Droewigheid van reënwolke, Blyheid van die sonneglans; En die wellus van die buiging Van die bloue golwedans; [pagina 187] [p. 187] Sagtheid van die tortelduifie, Felle wreedheid van die tier; Ydel pronksug van die pouvoël, Arbeidsliefde van die mier; Vrees en bewing van die hasie, Krag en oormoed van die leeu; Gloed en hitte van die vuurvlam, Kou van maagdelike sneeu; Milde oë van die wildsbok, Fierheid van die eed'le ros; Doodsgetrouheid van die waghond, Valsheid van die sluwe vos; Sterkte, swakheid, soetheid, suurheid - Alles voeg hy bymekaar. ‘Dis die pronkstuk van my skepping. Neem haar en wees goed vir haar.’ Net 'n maand - daar staan die Man weer En salaam met diepe buig: ‘Neem nie kwalik, o Narjana, Maar ek is bewus oortuig Met die Vrou kom ek nooit reg nie: Sy's 'n wilde kolokwint, Sy's nuuskierig, praatsiek, ledig, Wispelturig soos die wind.’ ‘Laat haar hier en gaan jou gang maar. Maak net soos jou hart verlang. Tyd sal leer hoe lank alvorens Die allenigheid jou vang.’ Net 'n week ... daar staan die Man weer: ‘'k Smeek, o Skepper, om pardon. Groot was my vergissing dat ek Sonder haar weer lewe kon. [pagina 188] [p. 188] Vir die oog was sy begeerte, Vir die hand bekoring sag. Harmonie was haar beweging, Rein musiek was in haar lag. Geurig was sy soos die lente, Vol van minnelied en lus: Lotus-blomme, wonder-rose - Wat ontluik in ied're kus! Ek onthou haar skelme kykies Uit die hoekie van haar oog ...’ ‘Oorgenoeg - dis jou vergewe. Neem haar en waardeer haar hoog.’ Net drie dae was verlope, En daar staan die Man al weer: ‘Nou bring sy my tot vertwyfeling ... Wat staan my te doen, o Heer? Vol van erns vermaan Narjana: Ek het haar vir jou gemaak. Sy's jou weerhelf! Wees verstandig: Maak die beste van die saak.’ ‘Het ek nie probeer al twee maal? Met die Vrou kom ek nooit klaar!’ Driftig antwoord toe Narjana: ‘En nog minder sonder haar!’ Vrind'lik spreek hy toe die Vrou aan: ‘Wat is, in die saak, jou wens?’ ‘Laat die Man aan my, o Skepper, En ek maak van hom ... 'n Mens!’ Vorige Volgende