Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 183] [p. 183] Deel 2 Toe die wêreld nog jonk was ‘In dié dae was die reuse op die aarde ... die manne van naam.’ Gen. 6:4 Kort anderkant Jerusalem Daar het gewoon Metusalem, Die man wat hul - dit sal jy sien Vermenigvuldig het by tien! Hy was g'n vier jaar in die land Toe kry hy al sy eerste tand; By tien jaar kruip hy oral rond, 'n Flinke knapie en gesond: Toe rol hy al, en val en woel En staan hy op teen elke stoel. Nog skaars was hy 'n jaar of elf Toe stap klein Lemmie al vanself. So groei hy op tot sestig jaar: Die eerste wisseltand was daar; En volgens landswet ry ‘oom Kool’ Op ou Behémot na die skool. Sy vaders trots, sy moeders vreugd', Met Step by Step en Trap der Jeugd In Hoog-Galdeeus en Aramees, Want almal moes tweetalig wees. 't Was goed en wel, maar alte vaak Het dié twee ‘opgemix’ geraak. Hy leer; en voor hy honderd was, Staan hy al eerste in sy klas! Op honderd-sestig moes meneer Sy melkbaard al begin te skeer; Tien jaar daarna al katkiseer En Hellembroek - die dubb'le - leer; Nog tien jaar toe begin hy al 'n Mooi, klein noointjie lastig val. Verniet dat Vader loop en brom: ‘Kniehalter-span sal ek vir hom! [pagina 184] [p. 184] 'n Bog van honderd-tagtig jaar Praat al van trou - so wrintie waar. Maar styf sal hy sy rieme loop - Hy dink glo trou is kémel koop!’ ‘Kind,’ sê sy ma, ‘daar's baie tyd - Waarvoor die grote haastigheid?’ Maar wat, die snuiter was getroud Skaars honderd-ses-en-tagtig oud. En soos dit in die huwelik gaan, Sy huisgesin groei stadigaan: So elke dertig-veertig jaar Is weer 'n nuwe outjie daar. So word, met dat die eeue rol, Ook mettertyd sy koker vol - 'n Pure man Metusalem, Die Raadslid vir Jerusalem! Hy tem die woeste Dinosour En skiet die wolhaar-Brontosour; En van sy vel maak hy 'n jassie Vir klein Mahérskalálgasbassie. Maar klein Kedorlaomertjie En lief Kirjatjaromertjie, Die tweelingboetie en sy sussie, Kry elk 'n hippopotamussie. Tiglatpileser, die parmant, Wil niks hê as 'n olifant; Maar Hammoerabie huil en sê Hy wil 'n wit harnoster hê. En klein Metusalem verlang Pa moet vir hom 'n walvis vang. ‘Habbakukkiena, bly tog stil!’ ‘Ag, Ma, hul vat my krokodil!’ Maar Gog-Magog met breë bors Eet soet sy leviatanwors. Ja, glimlag moes die moeder wel By dié verteed'rend' kinderspel: Hoedat - dis om jou hart te steel - Die kleinspan met hul diertjies speel! So leef hy voort en doen sy plig Tot sewehonderd-sewentig. [pagina 185] [p. 185] Toe sê hy: ‘Kinders, nou gaan ek My aan die boerdery onttrek. Voor nog 'n honderd jaar verloop, Sal ek vir my 'n bril moet koop. Die paar ou eeutjies wat ek nog Hier op die aarde lewe mog, Wil ek gaan rus van al my werk. My dorpshuis staan vlak by die kerk; Die dokter en die predikant Is albei sommer byderhand. Hou, as ek weg van julle woon, My kinders, julle paadjies skoon: Pas op vir borgstaan en krediet Vir Israel- en Ismaeliet. Behou die grond, kaart en transport; Betaal kontant: die lewe is kort, 'n Droom - en voor 'n mens gewaar, Dan is die ouderdom reeds daar. My lewe is - so skyn dit my - Soos 'n gedagte snel verby! My dogters, luister tog vir Pa: Volg nie die nuwe modes na: 't Word alles korter - liewe land! - Die rok, die hare en verstand. Dit dans, dit rook - dis om te ween. In hemelsnaam! Waar moet dit heen? Ligsinnigheid wat my verstom - Vanslewe was dit andersom.’ En so verslyt Metusalem Sy oudag op Jerusalem, En drink en rook op sy gemak Sy koffie en sy pyp tabak. So sit en peins hy menigmaal: ‘Die duisendtal sal ek nooit haal. Ek het ook soveel knoue weg In wilde-mens- en diergeveg, En sware koue in die nat Vierhonderd jaar gelee gevat. 'k Onthou nog goed die groot kapok - Die sneeu tot aan die huis se nok.’ [pagina 186] [p. 186] Op nege-sewentig-min-een, Sy tydjie om, was hy daarheen; En niemand wis of dag daaraan 'n Wêreldrekord was geslaan. Die feit is daar: Van toe tot nou Het hy die langste aangehou! Vorige Volgende