Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die lokstem van die Bosveld Aan my vriend Pierneef Langer kan ek hier nie rus - Rus of duurte kry nie: Nag, wat alles wieg en sus, Sus nie meer vir my nie. Drome wenk my in die nag, Stemme fluister deur die dag: ‘Hier is nie te bly nie.’ Na die Bosveld lok my droom - Droombeeld nooit verlore Waar Magalakween nog stroom - Stroom soos vantevore. 'k Hoor die môrewind se lied En die rietbok in die riet Aldeur in my ore: [pagina 178] [p. 178] Daar's 'n wêreld wyd en vry Anderkant Tatsjanie, Waar die grootwildtroppe wei Tussen die mopanie; Waar die groen maroelas staan; Waar oor gramadoelas gaan Geen gemaakte baan nie. 'k Sien die berge dynsig blou - Blou-pers rotsewande; 'k Sien die kremetartboom hou - Hou nog steeds die hande Seën-uitsprekend oor die woud As die dag in louter goud Breek oor bosse en rande. 'k Groet u glorie, Grote Son - Songoud uit u woning - Ligtelaaie lewensbron - Bron en glans-bekroning - Heil u strale mild en bly! Vlaktekinders wild en vry Ken geen ander koning. By die kampvuur met my roer, Roerloos deur die duister, Sien ek wilde oë loer - Loer met wilde luister; Maar ek staar die sterre aan Tot ek die geheim verstaan Wat die nagwind fluister. Na die Bosveld moet ek weer - Weer my siel tot lawing; Want ek walg en wil nie meer - Meer genotverslawing. Weg voor! Hier begin die tog, Weg van blinkerige bog ... Noem dit dan ... beskawing! Vorige Volgende