Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 174]
| |
Daar is 'n tyd vir pleit en paai,
Daar is 'n tyd om toe te gee;
'n Tyd om doekies om te draai
Ter wille slegs van rus en vree.
Daar is 'n tyd om maar te ploeg,
Daar is 'n tyd om maar te saai
Al is 'n mens ook baie moeg,
Al sal 'n ander dit ook maai.
Daar is 'n tyd om maar te buk,
Om maar te dra en te verdra
Die sware, ongelyke juk,
Om stil te swyg en nie te kla.
Maar eendag kom daar tog die tyd
Die dissel met die hand te vat:
‘Hier eindig die lamlendigheid,
Want ek is der verachting zat!
Ek het 'n arm, ek het 'n vuis:
'k Wil pal staan vir my goeie reg
En baas wees in my eie huis -
Daar lê die baadjie van die Kneg!
Die tyd vir soebat is verby,
En mooi-praat is nie meer die plan:
'n Plekkie in die son vir my -
Die regte van 'n vrye man!’
|
|