Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 171] [p. 171] As Kersfees kom Ballade As Kersfees kom - geseënde tyd - Dan word 'n droewe wêreld bly, Gaan harte oop, staan deure wyd Al waar die milde invloed sprei Van vrede, vrindskap, goeie wil, Wat meng in soete harmony - Die boodskap laat ons harte tril ... Maar môre gaan ons weer baklei! As Kersfees kom en vrind'likheid In goeie Sinter-Klaas-livrei, Heers wyd en syd beminlikheid In kerke en stande streng geskei. Dan, blykbaar, is daar geen verskil, Die Vredevors al toegewy: Warm word 'n wêreld doods en kil ... Maar môre gaan ons weer baklei! As Kersfees kom, wyk kleinigheid; Vergeet een ieder sy party; Wyk wanguns en venynigheid Wat broeders van malkander skei. Dan swyg die dwarstrek-geeste stil Voor vrede-engelesang en -rei - Dié kom so graag as ons net wil ... Maar môre gaan ons weer baklei! l'Envoi Die Kersfeesgees, die goeie wil, Die spreek tot U, die spreek tot my: Sy boodskap laat ons harte tril ... Maar môre? - Gaan ons weer baklei? Vorige Volgende