Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 170]
| |
Blomme van 'n later lente
Laat die boodskap weet:
Sê in liefde aan ons dode
Ons het nie vergeet.
Kleine Afrikanerstemme
- In ons eie taal -
Bring hier toegewyde hulde
Aan 'n ideaal.
Kleine Afrikanerharte
Voel hier sterk en groot;
Want besieling vloei uit lyde,
Lewe uit die dood.
Kleine Afrikanerhande
Sal die fakkels dra
- Wat aan julle vroeg ontval is -
Vir Suid-Afrika.
Swaar - hoe swaar ook al - die smarte,
Duur - hoe duur - die prys,
Nooit vergeefs die offerande
Wat die vryheid eis:
Skyn die nag so lank, so donker,
Skyn die dag so ver,
Rus in vrede: In die ooste
Blink die môrester!
|
|