Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende In die klooster Suster Infelice voor die Madonnabeeld Maria hooggebenedy, Vorstinne van die Eng'le-rei, By U, Geheimnisvolle Roos, Klaag ek my leed, soek ek om troos; 'n Swaard het deur U siel gegaan O Moeder-maag, U sal verstaan. U was ook maagdelik en rein Maar U had tog 'n Kindjie klein Om steeds te troetel aan U hart - U eie vir U pyn en smart; Om die geringste leed gesmaak - [pagina 166] [p. 166] Sy klein verdriet - weer goed te maak; U eie wiggie teer en klein Om lief te hê totdat dit pyn; Om met U trane te oordek En met U glimlag weer te wek - Maar al die rykdom van my hart Versmoor hier agter somber swart, Die moedermooglikheid in my Is aan die Hemel toegewy; Tog sien ek dikwels, dag en nag, Gesiggies wat my teë-lag, Gestaltes, skimme wat verskyn Met wonder-oë en verdwyn - En hoor ek stemme uit die blou Wat fluister: Ons behoort aan jou. Waartoe, o diep geheimenis Die drang wat aldeur doelloos is? As ek in skamel hutjie sien Waar Armoed woon, waar Liefde dien, 'n Moeder met haar kleine kroos - Haar sorg, haar kommer en haar troos - O Moeder hooggebenedy, Hoe sondig moet ek haar beny; Regina Virginum, erbarm: Sy is so ryk en ek so arm! Vorige Volgende