Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 165]
| |
'n Voël met witte vlerke
Vlak by die waterkant,
Die Ooievaar - so heet hy -
Hy kom van Anderland.
Dis hy wat my gebring het
Hoog oor die berg se top,
Want toe ek hom gevra het,
Toe knik hy met sy kop.
En toe ek vra of daar nog
Vir my 'n boetie is -
'n Boetie of 'n sussie -
Toe knik hy: Ja, gewis!
Ek is tog so allenig,
Het ek gesê vir hom,
En hy moet darem eendag
Na ons huis ook weer kom.
Want Mammie werk al maande;
Die mandjie staan al klaar -
Hoekom bly hy so lank weg?
Die stoute ooievaar!
|
|