| |
Die offerande van Isak
Sonnette-reeks
1 Die land Moria
Uiteind'lik deurgeworstel was die nag
Maar bloedsweet het dit Abraham gekos,
Steeds was sy hart by Mamres-Eikebos
En by die vrome tent waar Sara wag
En angstig reeds die trage stonde tel
Totdat haar Isak - sielsbeminde seun -
Sy hoof vertroulik teen haar bors sou leun,
Haar enigste van God op Wiens bevel
| |
| |
Hul als verlaat het - maagskap, volk en land,
Geliefde Paddan Aram, nou so ver
En huis en haard, verbroke elke band,
Met Sy belofte as hul een'ge ster.
‘God eis,’ - spreek hy, ‘Sy onderpand, my telg.
'k Eerbiedig die bevel wat my verdelg!’
| |
2 Op een van die berge
‘My vader, waar is dan die offerdier?
Van stene stewig vas staan die altaar,
Die brandhout al gerangskik, alles klaar.’
‘Dis Gods bevel en wil, my kind, kom hier.’
‘Gaan Vader nou my hande same bind?
Is ek die offer? Soen my op my wang
En, Vader, hou my vas, ek voel so bang.’
‘Maak toe jou oë, Izkele my kind.’
Hoe jaag die hart wat vaderhand moet tref?
‘U, Die my hart en al sy smarte sien,
U smeek ek met die mes omhoog gehef.
Skenk krag en lig, Verbondsgod Die ek dien.’
‘Doen aan jou kind geen kwaad,’ roep daar 'n Stem:
‘Gehoorsaamheid is offerand' by Hem.’
| |
3 Die Here sal voorsien
Die Here het voorsien. Nou huis toe weer.
Bly huppel Isak aldeur en gesels;
Word telkemaal deur Abraham omhels
Met ongekende teerheid keer op keer;
En Isak juig: ‘O, ek is tog so bly
Dat daar 'n ram verward was in die struik
Wat Vader vir die offer kon gebruik
En op die altaar lê in plaas van my.’
Toe eers beswyk die man in Abraham;
Toe wel die moeder op in ieder oog;
| |
| |
‘In plaas van jou, my dierbaarste, my lam?’
Snik hy en wend betraan die blik omhoog,
‘U roep ek tot getuie of ek nie
My kind geoffer het, el schaddai!’
| |
4 Ecce homo!
Daar voor sy oog verskyn in vér gesig
'n Heuweltop waarop 'n kruishout staan
Met wat 'n mensgestalte was daaraan
Gemartel. In die groue môrelig
Sien hy die doodsweet-druppels stadig val,
Verwese die gelaat deur elke kind
Op aard geken, bemin - die Kindervrind,
Die Liefde in 'n liefdeloos heelal;
Die bleke hande en voete wreed deurboor,
Om die bebloede slape 'n doringkroon,
En Abraham buig in die stof en hoor:
‘Aanskou die Mens - My Eengebore Soon!’
‘U weg is onnaspeurlik, groot U naam,’
Bid hy en omheen bid die velde saam!
| |
5 Soos 'n lig wat skyn in die duisternis
O man van Haran, met U karavaan,
U pelgrimstaf, U oog gestaag gerig
Op die belofte Gods - hoe trek die lig
Van U geloof ons, Trekkerskinders, aan!
Hoe wys die soeklig oor die eeue nog
(Wat in 'n strale-stroom oor die woestyn
Van Vrees en Twyfelsug bestendig skyn)
In vér verskiet die eindpaal van die tog!
U leid-ster in die vreemde was Geloof,
Met Hoop en Moed U tot 'n stok en staf,
U veil'ge brug oor elke donker kloof
Geloof wat triomfeer oor Dood en Graf,
Wat uitblink soos die rooidag teen die nag
Voortgaande en ligtend' tot die volle dag!
|
|