Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 160]
| |
Sware laste, harde slae,
Droë brokke vir my brood -
So slyt ek my lewensdae
Tot my onbetreurde dood.
Trots verbrys'ling menigvuldig,
Met my stoere kromme wil
Stadig stap ek en geduldig,
Swoeg ek, swerf ek, swyg ek stil.
En my naam, die spotbenaming
Van elk' domme kreatuur.
Tog - die trotse tot beskaming -
Eenmaal had ek ook my uur.
Toe hosannas bly geklink het
Triomfant'lik aan 'n Vors,
En 'n pronktuig skoon geblink het
Op my rykversierde bors.
Ek ... tot eed'ler diens verkore
Dan die edelste mag vra:
Want my was die eer beskore
Om die Hoogste Las te dra!
|
|