Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 159]
| |
Waarom, kerm hy, moes ek begaan
Die sonde nooit vergewe?
Ag, Meester, sal U hart verstaan
Ek boet ook met my lewe?
Ek was ook nodig vir U plan.
My skande en my skade
Die mensheidsredding. Is daar dan
Vir my ook geen genade?
Hoe kon ek, arme boeteling,
Die noodlot my beskore
Vermy - en haar besoldiging -
Verordineer tevore?
Hoe jaag my pols, hoe hyg my bors,
Wee my! - Waarheen my wende?
Vervloekte geld! Ag, welk 'n dors -
Welk' wroeging, wat ellende!
O God! verlam die wrede hand;
O, hoor die harde slae!
My sal tot aan die verste strand
Die milde oë knae.
Onskuldig bloed het ek verraai,
Niks kan my skuld bedelwe,
Hoe woed die vlamme ligtelaai ...!
En hy verworg sigselwe.
|
|