Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die beste Der Mensch hat hier dritthalb Minuten: eine zu lächeln, eine zu seufzen, und eine halbe zu lieben; denn mitten in dieser Minute stirbt er. Jean Paul Richter Oneindig is die wonder - Oneindig klein en groot - Omhoog, omlaag en onder In Moederaarde-skoot. Verganklik is, o Lewe, Jou rag so fyn gewewe, Maar nooit sal ons begewe Die vrede van die Dood. Gekroon bly die bekoring Van liefde en van rus: Die soeklig op die toring, Die see wat saggies sus; Want altyd - eerste en leste - Van al is Liefde beste En Slaap wat uit die weste Vermoeide oë kus. [pagina 154] [p. 154] Wat ook die Dag se pligte, Welk' sorge in verskiet, Send ons 'n Nag van ligte En nagtegalelied, Geen las te swaar te dra nie - Die wil om nie te kla nie - Die moed om niks te vra nie: Die Hoogste Wil geskied. Bereik die stroom die duine, Van moed en spoed ontdaan, Weerkaats hy meer geen tuine En vang versanding aan Met dorheid sonder bloesem, Neem dan, met slyk en droesem, Jou kind weer aan jou boesem, O Moederoseaan! Wie weet welk' sterre flonker, Welk' skepe steek van wal Waar, in fluwele donker, Die laaste awend val - En, los van lus tot lewe, Van hoop en vrees onthewe, Van onrus en van strewe - Ons wegsink in die AL? Vorige Volgende