Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 130]
| |
Sorgsaam word die taaie klei
Uit die smid se dam gebrei
In die skurwe handjies.
Noags Ark word daar gespeel:
Dié een maak 'n krom kameel.
Daardie ... olifantjies.
Maar die Knaap met lig gelaat,
Wyl Sy maters lag en praat,
Maak 'n tortelduifie;
Maak 'n mooie koppiekrou -
Borsie rooi en vlerkies blou -
Geel en groen die kuifie.
En Hy gooi hul in die lug;
Dáár trek hul in snelle vlug
Ver weg op die windjies!
Groot was die verwondering -
Was dit ook nie sonderling? -
Van Sy kleine vrindjies.
Spraakloos van bewondering
Luister almal in 'n kring,
Ope mond en ore,
Hoe Sy Vader alles klaar
Eens geskep het, wonderbaar,
Eeue vantevore.
In Sy liefde sonder grens
Was Hy jammer vir die mens
Ver van Hom verstote;
En Hy leer hul om te lag,
Tooi die veld met kleureprag,
Blomme kleine en grote.
| |
[pagina 131]
| |
Toe dink Hy 'n veertjie uit,
En 'n keeltjie wat kan fluit,
En twee skerpe oë.
Kunstig vorm hy toe 'n vlerk
Om te swewe deur die swerk
Tot die wolkeboë.
En daar word 'n wonderding:
Blommetjies wat vlieg en sing,
Elk sy eie wysie:
Swaeltjie, wat die somer bring,
Rooibek - winter-liefeling,
Soetste sanger, sysie.
Vinkies rooi en vinkies geel,
Goud, skarlaken en fluweel.
Hangend aan die bome
Nessies, kunstig deurgeweef,
Op die luggies om te sweef
Oor die waterstrome.
Glimlag moes die Maker nou
Vir die pronksug van die pou
En die langstert-vinkie;
Vir die grootkeel-pelikaan,
Vir die uil en swart koraan
En verspot tinktinkie!
Hy maak die kanarie geel
Met 'n orrel in sy keel.
Leer self skone akkoorde
Aan Sy sanger nagtegaal.
Tot die voëltjies altemaal
Spreek Hy hierdie woorde: -
| |
[pagina 132]
| |
‘Jubel as die dag begin,
Lei met sang die somer in.
Speel met wolke, winde;
Telkens as die lied weerklink,
Sal Ek aan die mens gedink,
Voëltjies - My beminde!
Smôrens as daar word gehoor
Boskoraal en vlaktekoor -
Voëltjies bly gewemel -
Sal die Engeltjies kom loer
Deur die tralies perlemoer
Van die hoë hemel.’
|
|