Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 125] [p. 125] Oom Lokomotief en tant Treinie 1 Huis toe Word jy moeg van die see en die sand, En verlang jy daar nie meer te bly nie, Kom dan terug na ou Suikerbosrand Met oom Lokomotief en tant Treinie. Ou oom Lokomotief is 'n man Wat maar altyd moet trap in sy spoor: Want tant Treinie kom knaend agteran En sy loer wat hy aanrig daar voor! Die oom Lo en sy Trein is 'n wa Van die egte ou voortrekker-soort, Want die las van die land moet sy dra En hy trek altyd voor - altyd voort! Ou tant Treinie sy gaan altyd mee, En wat het sy nie als in haar skoot? Heen en weer van die land na die see Dra sy kindertjies en hulle brood. 2 Die rit deur die Natal Dag, ou Durban! Hoera! Kyk ons ry (Want oom Lo staan en fluit ongeduldig) Deur die Duisende-heuwels-vallei En die Zoeloe-geslag menigvuldig. Dit is swaar vir oom Lokomotief Om van Pietermaritzburg te gaan: (Dis die land duur gekoop deur Retief Met sy goed en sy bloed van Dingaan!) [pagina 126] [p. 126] En hy stamp en hy stoot en hy steun; En hy trek dat sy keelgorrel fluit; En hy krul en hy kronkel en kreun Maar hy bring ou tant Treinie bo-uit! En daar blink die Toegelarivier. Dis die plek waar die Rooivers se Bul In die draad vasgeloop het. Ja, hier Het oom Louis vir Buller gekul! En daar links lê die slapende Draak - So van ver af lyk hy soos 'n berg - Hy is woedend wanneer hy ontwaak, So pas op! om vir hom nie te terg! Amajoeba! Oom Lokomotief Loop 'n paar male hier heen en weer En hy fluit: ‘Op! Saluut asseblief Aan die dapper geslag van weleer.’ 3 Die hoëveld Lekker los loop oom Lokomotief Waar die rooi Afrikaneros wei En tant Treinie die sing: ‘Ag hoe lief Lyk 'n mielieland nou weer vir my.’ Ons is uit op die Hoëveld nou En ons vlieg oor die dak van Transvaal En die lug is so helder, so blou - Net nog Greylingstad, Balfour en Kraal - 4 Tuis En dan Heidelberg - Suikerbosrand - Mooiste dorpie ten noord van die Vaal! Daar's die stasie - die Kloof - liewe land! En ek weet sommer wie my kom haal! Vorige Volgende