Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 116]
| |
Jy dink jy's snaaks, jy speel die gek,
Jy's net verspot om so te rek
Al oggende en saans.
Ek rol op jou die swaarste kluit,
Dit help my niks, jy glip tog uit,
Al was dit ook 'n krans.
Grondmannetjie, wie is jy dan?
Het jy 'n naam, voer jy 'n van?
Ek weet: jou naam is Bang!
Jy's dapper in die sonneskyn
Maar donkeraand het jy verdwyn -
Jy laat jou nooit nie vang.
Grondmannetjie, my oupa sê:
Jy wil hom in die aarde hê,
Jy trek hom nou al krom;
Hy het die lewe deur geswoeg,
Nou wil hy rus, nou word hy moeg,
Netnou kry jy vir hom.
Maar ons twee wil nog lekker speel,
Nog bome klim (en vrugte steel!),
Nog rol en spring en lag!
Net een ding moet jy goed verstaan:
Dink jy ek sal na jou toe gaan -
Dan sal jy lank moet wag!
|
|