Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 117]
| |
Ja wel,
Outa Klaas laat jou vel
Pure hoendervleis word as hy daarvan vertel.
Hoe die mensvreter lyk? Vergeleke by hom,
O maggies,
My ou Kleinbasie, wraggies,
Is die swart Tokkelôsie so mooi as 'n blom;
In sy kop het hy net 'n afgryslike bek,
Wat so wyd as die seekoei se kake kan rek,
Want al kou hy 'n kind, dan's daar plek vir nog twintig,
Allemintig,
Glo, my Kleinbasie, wrintig,
Met 'n kind in sy kies is daar plek vir nog twintig!
Die ou mensvreter word net so groot as 'n reus,
En haai!
Hy't 'n moesie tamaai
Soos 'n skurwe pampoen op die punt van sy neus.
Hy't 'n bult soos 'n nege-oog agter sy oor,
Albei voete staan omgekeer agterstevoor,
En die berge gee antwoord as hy maar net hoes.
O, koes!
As hy nies, gaan dit woes,
Maar dit gaan of die wêreld vergaan as hy hoes!
En die lang naels krul aan sy voet en sy hand.
Pas op!
Hy kan klou, hy kan skop,
En, daar voor, uit sy mond steek 'n skerpe, krom tand,
En die droë bloed klewe nog vas aan sy baard -
Aan sy klapperhaarbaard, wat hy meet by die jaart.
En geen wonder, want hy het mos mensvleis geproe,
Ag, soe!
Maar dit smaak daarnatoe!
Sê die mensvreter as hy die ribbetjies proe!
| |
[pagina 118]
| |
Dis 'n vreeslik' gesnork as die mensvreter slaap,
Ja-nee,
Dis 'n sirkus of twee,
Want hy bulk soos 'n bees en blêr soos 'n skaap,
Of hy huil soos 'n kindjie; en dan kan jy weet
Gisteraand het hy weer 'n vet seuntjie geëet!
O, dit gaan of hy knaend met die nagmerrie stoei,
Ag foei,
Hoor hy loei soos 'n koei,
Dis die beesvleis wat so met die nagmerrie stoei,
In 'n donker spelonk teen die Bosberg se hang,
Ja, juis,
Is die mensvreter tuis.
Vet en maer bring hy daar elke ding wat hy vang,
En daar voer hy die kinders met heuning en pap.
Elke nag kom hy voel as hul moeg is en slap,
Of die vet al die maeres se ribbetjies dek.
Voertsek!
En hoe dikker die spek!
Al hoe meer hy van lus dan sy lippe aflek.
Op sy voet het die mensvreter weerskant 'n oog,
O, gits!
Dit is oë wat blits!
As hy iewers wil kyk, staan hy voete omhoog.
Jaag die mensvreter jou, loop dan al in die sand,
Want die stof laat sy oë so water en brand
Dat hy glad nie kan sien, nie meer weet waarnatoe.
Allehoe!
Kyk jou oë gaan toe.
Wil my Kleinbaas loop slaap? Dan's dit ook daarnatoe.
|
|