Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd1 Sonskyn en reënMet sonskyn is die Goeie steeds
Te mildelik bedeel;
Want meestal dra die Bose reeds
Sy enigste sambreel!
Dat op Regvaardig meeste reën,
Dit spreek wel as 'n boek;
Want Onreg stap kurkdroog daarheen
As Reg sy reënjas soek!
| |
[pagina 104]
| |
2 Ons weg deur die leweSagmoedig is die erfgenaam
Van al die aardryk rond.
Parmantig erwe goud en faam:
Sagmoedig ... ses voet grond!
En Eerlik duur die langste. Ja!
Dit mag 'n mens wel sê,
Daar dit sy hele lewe vra
Voor Eerlik veel sal hê.
Die beste wat die lewe skenk -
Die Skoonheid - sal vergaan.
'n Swakke troos is dit te denk
Die Lelikheid bly staan!
Tel al jou seëninge op.
Elkeen betaal jy duur;
Want met jou eerste suikerprop
Had jy jou eerste suur!
Want of jy slaaf is, of jy vry
Of groterig of kleinig,
Jy sal 'n weinig bitter kry,
Of anders ... bitter weinig!
| |
3 Menschlich alzu menschlich!‘'n Mens die bly tog maar 'n mens,’
Sê Reitz, en wil betreur:
‘Net soos hy kry al wat hy wens ...’
Asof dit ooit gebeur!
Te dwaal is menslik. Ja, dit eis
Geen verdere beskeid.
Nou het tog almal die bewys
Van hulle menslikheid!
| |
[pagina 105]
| |
En meer as een betekenis
Het ‘gif’ sowel as ‘lewe’.
Dis daarom dat dit moontlik is
Jou vyand te ‘vergewe’!
| |
4 Versigtigheid is die moeder van die wysheidBetaal jou skulde aan die Bank,
Betaal maar iedereen.
Krediet is kort - die lewe lank,
Dalk sal jy weer moet leen!
Laat die ou Duiwel doodstil staan,
Kort is die lewe vaak.
Wie d' onbekende in moet gaan,
Die moet geen vyand maak!
| |
5 Home sweet homeEentonig is die vrou haar taak,
'n Seën dus - beslis -
As kinders hul verskyning maak,
Dat dié tien-tonig is.
Gedenk aan Lot se arme vrou:
'n Soutpilaar, 'n spot;
Maar wil ook in gedagt'nis hou
Die arme vrou se lot!
| |
6 Adam en Eva'n Diepe slaap - die Vrou was daar;
Die slang - die velkombers.
Hy't groot geskrik. Nou vra hy haar
Eers om 'n opsitkers!
| |
[pagina 106]
| |
Net soos 'n vlinder op die wind,
So lustig sweef sy daar;
En dwaas is dit, my goeie vrind,
Gewig te heg aan haar.
'n Feit is dit en ewig waar:
Die man en vrou word één.
En daarom voel hul by elkaar
Soms eensaam en alleen.
'n Hawe in die storm is sy,
Die vrou, Gods beste gawe!
Pas op! As sy begin te stry,
Dan storm dit in die hawe!
Getroue liefde is die eis
Van beide man en vrou.
En tog, hoe menig' troubewys
Is geen bewys van trou?
| |
7 Populêre opvatting van
1 Die Predikant
Uitruster is die predikant:
Hy slaap en droom met lus.
Die lede is die ledekant
Waarop hy heerlik rus!
2 Die Regsgeleerde
Die Regter weet soveel van Wet:
Weet sake te besleg.
Dis goed en wel, had hy maar net
'n Flou besef van Reg!
| |
[pagina 107]
| |
3 Die Dokter
Die koster en die arts ontmoet
Toevallig by die deur.
Die koster, met 'n lag en groet,
Sê: ‘Aprez vous, Monsieur!’
4 Die Skoolmeester
En, meester, teken bietjie aan:
(Jy kan dit lig vergeet)
‘Die meester wat die meeste slaan
Is dié wat minste weet!’
5 Die Politikus
Hier soek na harmonie, musiek,
Nie net die musikant.
Net andersom die politiek:
Dié soek ... die rusie-kant!
| |
8 RykdomDie rykaard moet sy geld laat staan:
Die aardryk hou sy geld.
Maar goed ook. As dit mee kon gaan,
Sou dit miskien tog smelt!
Die ryke dog hy kon bepaald
Sy toegangskaart betaal;
Maar Petrus sê: ‘Hou vas die naald:
'k Gaan eers die kemel haal!’
| |
[pagina 108]
| |
9 ArmoedeDit is nie swaar om swaar te werk,
Geen skande arm te wees;
Want arbeid maak die arme sterk.
Die swaarste is: Arm van gees!
Ja, arbeid adel. Wie verklaar
Dié bitt're ironie?
Ons almal spartel hot en haar -
Net adel arbeid nie.
| |
10 OuderdomMet ouderdom, sou 'n mens verwag,
Sou wys- met grysheid kom.
Die grysheid bly nooit uit, maar ag!
Dit spel ook oud-en-dom!
Gebreke bring die ouderdom.
Wees bly - wat hy ook mis -
Dat een gebrek waarmee hy kom,
Gebrek aan asem is!
|
|