Die sware tye
Das ist die schwere Zeit der Not.
Das ist die Not der schwere Zeit.
Das ist die schwere Not der Zeit.
Das ist die Zeit der schwere Not.
‘Maar, neef Gert, jy verdien 'n paar pond in die maand,
En jou kinders moet eet van dit lig word tot aand.
Kyk, hoe kry jy dit reg hul te voed en te klee
Met 'n inkoms so klein, man, waar doen jy dit mee?
Daar is Piet, Jan en Koot, daar is Danie en Frik
En klein Fransman, en al ses gesond, vet en dik!’
‘Ag, ou broer,’ sê Gert, ‘dit maak nie die oorleg,
Sonder dié was bepaald ons posisie maar sleg.
En nou nie dat ek wens om te pronk en te praal,
Maar ek is 'n bekwaam tesourier-generaal:
Gee 'n kind op sy tyd net sy kos en sy slae,
Dit het ek ondervind, en jy my al die plae.
Baie eet is maar kinders se kwaal, lyk dit my -
En dit sê nie, hul kon aan iets ergers nog ly.
Ek koop aldag vir almal en sonder krediet
Al die nodige voedsel ... en klere vir Piet!
Net so gou as die klere vir Piet begin span,
Word dit kleiner gemaak vir my tweede seun, Jan.
Word ons Jan na 'n tyd vir sy klere te groot,
Dan is hulle meteens nommer pas vir klein Koot;
En klein Koot het dit nog nie 'n halfjaar gedra nie,
Dan's hy klaar met die pak, en dit gaan weer na Danie,
Lyk ook hy na 'n tyd vir die pak bietjie dik,
Net 'n kleine verandering, dan pas dit vir Frik.
En sien Frik na 'n wyl vir die pak nie meer kans nie,
Dan's sy erfgenaam onse ou kleinstetjie, Fransie.
En as Fransie se pak begin halfslyt te raak,
Word dit lappe om Piet se broek dikker te maak.
Want dié vent is op skool, en die meester is kwaai,
| |
En die skoolbanke hard en die kweperlat taai!
Ek sê soms: “Jy's te straf met die klerekoop, vrou!”
“Ag loop slaap, by sy lees moet die skoenmaker hou.
En wat jy, my ou man, nie van lap en stop weet,
Ag dit het ek al jare vergeet.
Laat gerus maar die klere en kos aan jou vrou
En daar buite kan jy, soos jy lus, bak en brou.”
Piet groei op; en as hy eers my klere kan dra,
Ag, vir goed is ons dan van die koop'ry ontsla:
Ek gee myne vir hom, hy weer syne vir Jan.
Jan weer syne vir Koot, en so voorts die heel' span.
Ons is almal gekleed - en wat meer wil jy hê?
Sien, ou neef, mens moet weet om 'n ding te oorlê.’
|
|