Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 101]
| |
Eerste bedryf: In die haakO, dit was in die tyd toe die blare verkleur,
En die aandwind was swaar met die najaar se geur.
In 'n outydse tuin, met 'n brug oor 'n stroom,
Teen die stam aangeleun van 'n eeu-oue boom,
Heel die wêreld vergeet, sit daar twee hand in hand,
Die verliefste, gelukkigste paar in die land!
Iets romanties, natuurlik, sal altyd gebeur
In die tyd - skone tyd! - as die blare verkleur.
| |
Tussenspel: Tussen hakiesO my beminde, dis die dag
Waarna die jare het gesmag;
Die stippie in Infiniteit
Verordineer in d' Ewigheid,
Die sielsmoment, ekstase soet,
Waar parallelle lyne ontmoet!
Voortaan vereen om nooit te skei,
Want ek min jou, en jy min my.
O maanligaand, o sterrenag,
Waarop die jare het gewag,
Vertraag jul gang en laat die uur
Van ons geluk vir altyd duur!
| |
Tweede bedryf: Uit die haakAg, die tyd vlieg so snel, en verby is 'n jaar.
Op die brug in die tuin staan liefkosend 'n paar;
En, ja wel! dit is sy - Juliet van weleer;
Maar, o wee! dis nie hy - dis nie Romeo meer.
‘Weet jy wat?’ suis die wind. ‘Nie so ver hiervandaan
| |
[pagina 102]
| |
Is dit net wat hy doen, vra gerus aan die maan!’
‘Kan dit wees?’ ruis die boom. ‘Kan daar so iets gebeur?
Dis ook dit wat my blare aljare verkleur!’
|
|