Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 100] [p. 100] Sannie Daar was in my oë geen jonkman so flink, So gaaf en so prettig as Jannie. ‘Vir hom sal ek wag,’ het ek heimlik gedink, ‘al kry ek ook anders geen man nie!’ Maar hy had net oë vir Sannie du Toit (En wie het 'n glimlag soos sy het?). 'n Skatjie was sy, so lieftallig, so mooi, Moenie vra of ek Sannie beny het! Vergeet sal ek nooit ... nie die dag of die jaar Toe Jannie gaan trou het met Sannie, My liewe, maar dit was 'n prag van 'n paar, 'n Beeld van 'n bruidegom - Jannie! Die dominee self kon dit byna nie hou, Ek dink: ‘Sê nou maar dit was sy nie, Maar liewer ek self wat met Jannie gaan trou.’ O, het ek haar toe nie beny nie?! Twee jaar was verby, en mooi Sannie nie meer, Arme Jannie so droef en allenig. Die ou liefde roes nie, dis my beurt dié keer. Nou is ons in die huwelik verenig! Ek dink aan haar rustige graf in die kloof ... Geen oorlas van kind of van man nie ... Die rankrosies rondom die steen aan haar hoof - Nou beny ek eers regtig vir Sannie!! Vorige Volgende