Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 98] [p. 98] Divan Oos is Oos en Wes is Wes, Één ding weet ek: Tuis is ... ook maar baie dingetjies. Deur die poort van Miramaar Trek 'n Oosters bonte skaar Met kamele swaar belaai, Ruiters voor met swier en swaai. Oor die lange karavaan Waai die Ster en Halwemaan; Dis die sultan Mirza Khan Op sy reis na Ispahan. Jaarliks trek 'n pelgrimskaar Deur die poort van Miramaar. Skaars is hulle om die draai Waar die dadelpalme waai, Of daar doem 'n ruiter op Op 'n wilde jaaggalop, Hoofman van die Badewyn, Emir van die sandwoestyn, Vlokke skuim die bors versier Van sy skimmel arabier. Hy ook maak 'n pelgrimsreis... Na die sultan se paleis. Favorita Fatima, Dogter van 'n Padisha, Lieflingsvrou van Mirza Khan (Tans op weg na Ispahan), Wag ... in haar vergulde saal, Wag ... maar nie vir haar gemaal! Loer van agter sygordyn Na die kant van die woestyn, Na 'n ruiter flink en fier Op 'n skimmel arabier! [pagina 99] [p. 99] Later, as die ligte brand, Klap sy twee maal op haar hand, En haar slawe, swart en stom, Tooi die saal met elke blom. Geurig ruik die spesery, Keurig lyk die lekkerny. In bokale kristallyn Glinster Cipriaanse wyn - Wyn wat soos haar oë straal - Yallah! nie vir haar gemaal. Net 'n blik, en daar verskyn, Net 'n knik, en weer verdwyn, Op die dulsiemer se klank, Danseresse, jeugdig slank, Met Kaukasies' wilde gloed Bruisend in hul jonge bloed. Langs haar sit die ruiter fier Van die skimmel arabier! Onderwyl trek Mirza Khan Perdgerus na Ispahan. Kom 'n motor aangevaar, As my buurman oor die straat Uitbly tot wie weet hoe laat (Hy's 'n trou vrymesselaar), Gee 'n onderdrukte fluit - Ry dan met die dame uit. 'k Mag niks sê, maar dink tog dit: ‘Buurman, jy moet waak en bid, Want die Sultan Mirza Khan Reis nog steeds na Ispahan!’ Vorige Volgende