Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Hoop En nou bly daar Geloof, Hoop en Liefde - die drie; maar die middel een is Hoop! Op die vleuels van die daeraad, In goudborduurde wolk-gewaad, Met blye groet en gulle lag, Kom Hoop gevloë uit die nag; Bekoorlik in haar frisse jeug, Versprei sy lig en soete vreug, Haar aanblik straal van lewensmoed, Van alles waar en skoon en goed, Met goue hare en bloue oë, Verskyn sy skitt'rend uit die hoë. Sy fluister sag in ieders oor: ‘'n Nuwe uitsig blink daar voor Waar groue newels van die nag Wyk vir die wonder van die dag. Die skepping juig, natuur ontwaak, Begin met kloeke moed die taak; Die gulde lewensboek bevat Vir elke dag 'n nuwe blad; Want elke dag is maar die lewe: Sukses beloon slegs moedig strewe! Getors maar weer die sware las, Die skouer aan die wiel gepas, Die krag wat spier en senu sterk, Die “ope sesame” is: werk, Die mag wat wondere verrig, Die dryfveer van die wil is: plig. In vreugde en smart die hoogste goed: [pagina 90] [p. 90] Blymoedig hart en goeie moed, Al was jy gister moedverlore, Jou siel word elke dag herbore!’ Deur droewe misdamp van die druk Sien Hoop 'n eiland van geluk; Deur winters somb're spinnerag Weer bloesempronk en blareprag; Uit donk're holtes van die nag Verneem sy blye kinderlag; En bokant swarte wolkgordyn Sien sy die sterre ewig skyn. O Hoop, geseënde in u gaarde Bloei elke skone blom op aarde! Hoop ploeg die boer se laaste voor; Hoop voer sy wa die Dorsland oor; Besiel die burger as hy veg Vir vaderland en goeie reg. Hoop is ons laaste, beste vrind. Die grysaard leef weer in sy kind; Waar ook sy wrakke wa bly staan, Hoop wys hom die geweste aan Waar dierb're oë liefd'rik neersien In lank-verbeide Land van Weersien. Vorige Volgende