Versamelde gedigte
(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 88]
| |
Onder sy hoewe gestaag dreun die donder,
Ratsheid en spoed tril in senu en spier,
Weerligstraal blits uit twee vurige oë,
Trotsheid en moed uit sy neusgate fier.
Vinnig en fyn is hy, rats soos 'n reebok,
Vas op sy pote langs bergpad en krans;
Draf kan hy snel oor die veld soos 'n duiker,
Trippel kan hy soos 'n pronkbok wat dans.
Vroeg, as die son nog net loer oor die rande,
Droomgesus rus nog die slapende stad,
Wek ons die weerklank wat woon in die klowe,
Skaduwees lank wat nog slaap oor die pad.
Saam met die môrewind vlieg oor die vlakte
Ons twee met Sterloop, my troue ou roer -
Ryperd en ruiter en roer is 'n drieling,
Tuis al van ouds in die land van die Boer.
Ek was 'n penkop en hy was 'n jong perd,
Met De la Rey het ons storm geja;
Onder 'n bui van kartetse het Voorslag
My en my maat van die slagveld gedra.
Groot die gevaar en daar veraf die redding,
‘Voorslag, dit moet! Môre voordag weer hier -
Dwarsdeur die nag sonder afsaal of omkyk,’
Redding was daar toe die rooidag lumier.
Sterk die verlange en ver woon die noointjie,
‘Voorslag! sal ons twee vanaand dit nog haal?
Voorslag! die kleinnooi die kyk of ons aankom.’
- Sononder was ons by haar afgesaal.
Gee my 'n ryperd, 'n roer en 'n wildsbok,
En ek beny nie die rykste sy geld;
Vryer en blyer as Vors op die troon is
Voorslag en ek op die eind'lose veld.
| |
[pagina 89]
| |
Aangeland in die Hiernamaalse Velde,
Sou'k van die Aarde net een ding begeer:
Gee my die beste, die trouste van Vrinde,
Voorslag, my ryperd, gee hom vir my weer.
|
|