Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die berge van die Boland Sonnet O berge van die Boland, wees gegroet! Die swerweling aanskou u skoonheid weer, Die voer hom t'rug na dae van weleer En wek herinneringe wondersoet. Hoe vul sy hart met weemoed en met vreug By aanblik van u kalme majesteit! Want agter u pers-bloue dynsigheid Lê al die skoonste jare van sy jeug; Toe met veerkragt'ge voet en held're oog Die knaap, sig lawend aan die bergstroom klaar, Geklim het tot die kale kruin omhoog; 'n Koning was hy toe, ag wis hy 't maar! U roep - hy strek die hande uit - hy kom; Die jare wyk - hy is 'n knaap weerom! [pagina 87] [p. 87] O Berge, duisend jaar in u bestaan Is minder as by hom een vlugt'ge uur, Sy lente was, helaas, so kort van duur - Wat het hy met die gulde tyd gedaan? O Berge, hy was af in die vallei In Poel van wankelmoedigheid en vrees - Op Tabors van verheerliking was hy gewees En Maras bitter, Elims soet ken hy! Want hy ook moes sig in die strydperk waag; Hy het gesmaak van liefdesaligheid, Van wel en wee - sukses en nederlaag; En diepe letsels dra hy van die stryd. Van alles uit die lewe span die kroon Die eie dak waaronder liefde woon! Die Bouheer van die berge het oor u Die rooiwyn van Sy vreugde uitgedruk, En nog weergalm die lag van Sy geluk In donderklank oor u gevaartes ru! En blydskap skink Hy ons uit die bokaal Van sy troonhemel oor u, blou en rein, Uit duisendvoud'ge lewe groot en klein En uit Sy sterreheer se prag en praal! O Berge, ons vertoef hier net een dag; U staan so onverganklik vas en pal En roep: ‘U dag is kort, O leef en lag; Vervul u rol, totdat die voorhang val; Dans voort tot die musiek verstom oplaas; En speel totdat die fluit die aftog blaas!’ Vorige Volgende