Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende ‘Die wapad is my woning’ Wo wird einst des Wandermüden Letzte Ruhestatte sein? Unter Palmen in dem Süden, Unter Linden an dem Rhein? Heine Ag, had ek 'n eie ou huisie, Al was dit armoedig en klein - 'n Voorhuisie met 'n kombuisie, 'n Slaapplekkie warm en rein. En in die kombuisie 'n essie, Waarop ek my ete kan kook - 'n Ketel, komfoor en 'n tessie, 'n Skoorsteen wat voordag al rook. 'n Tafel en daarop my boekie, En Bybel - my man se geskenk; Ek sit van die pad, in 'n hoekie, Die lief en die leed te herdenk. 'n Venster met twee malvaplantjies - Hoe mooi is die rooi en die groen! Waar ek smiddags sit hekel my kantjies En al my ou werkies kan doen. 'n Muurkassie met 'n paar goedjies, En langsaan 'n klok teen die muur; Ek sing wyl ek afstof, so soetjies, En blink hou ek alles geskuur! [pagina 84] [p. 84] 'n Stoepie waar'k saans, vry van sôre, Kan kyk hoe die skadu's verleng; Goddank hulle wys na die môre, Wat weersien in blydskap sal breng. 'n Tuintjie met groente en kruie, Het lewenslank ek al begeer; Wie kan tog aan andere beduie Wat 'n mens op die wapad ontbeer? En kom eens die Dood in genade, Die storm van die lewe gesus, Hoe graag sou ek dan in jou skade, O liewe maroelaboom, rus! Want dit is die end van die strewe, Van al wat 'n moeder moes ly: Te lank het ek nou al gelewe, Geen ruimte is daar meer vir my. Ek is moeg, O so moeg al van swerwe; Rus smeek ek vir liggaam en gees. Sou daar nie vir my eer ek sterwe, Ook êrens 'n staanplekkie wees? Maar voor oor die wapad staan immer, Bekroon deur 'n lonkende ster, Die hoë blou berge van Nimmer Wat die weg na Geluksland versper! Vorige Volgende