Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Tot waar ons weer die sterre sien U wat die Groot Heelal gebied, Onpeilbaar Wese en Verstand, U hou Orion in U hand En hang die Aarde aan 'n Niet. Ek lees U skrif op elke rots, Ek hoor U stem in die orkaan, Ek sien U oog in son en maan, U hartklop in die golfgeklots. U skoonheid straal uit elke roos, U blydskap klink in kinderlag, U reinheid daal in sneeuvlok sag, Uit elke wolk U traan van troos. U voete gaan langs elke weg, U perke is oneindigheid; Ons kan geen grens van ruimte of tyd U teenwoordigheid ontseg. Dit tog, dit is ons hoogste roem: U beelt'nis blyk in ieder mens; Dies leef in hom 'n sug - 'n wens En iets wat U wil ‘Vader’ noem; [pagina 71] [p. 71] Die hoop dat in verderflikheid Iets woon wat altyd sal bestaan, Wat met die liggaam nie vergaan, 'n Kiem van U onsterflikheid. 'n Sprankie van U lig miskien Wat deur die donker doodsvallei Die noue weg langs ons sal lei Tot waar ons weer die sterre sien! Vorige Volgende