Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 66] [p. 66] Eheu fugaces ... Si jeunesse savait. Si vitesse avait. Onthou jy nog, Anita lief, Die aand daar by die strand, My hart vir jou 'n ope brief, Jou handjie in my hand? Die maanlig het die see gesoen, Die see ... die strand, nog heet - En ons ... wat kon ons anders doen? Kan ons dit ooit vergeet? Cherie Yvonne, het jy vergeet Die les in Afrikaans? Die beste taal het ons geweet, Die tyd in ou la France. En aan my hemel onbewolk Was jy die goue son; ‘Toujours l'Amour’ was onse tolk; Onthou jy nog, Yvonne? Mooi Gretchen, kan jy nog onthou Ons tyd van soete min? Die Neckar met sy waters blou, Jou ogies blou daarin? Die donkergroene dennewoud Was liefdes-heiligdom - Alt Heidelberg, die jeug van goud, En jy - sal nooit weer kom! En, bonnie Jean, onthou jy nog Die eiland van die Swaan? Ben Lomond en die donker loch By heldere somermaan? Aan rosebanke trek ons twee (Was dit 'n droom - wie weet?) Wit swane oor die lewensee - Kan ek dit ooit vergeet? [pagina 67] [p. 67] Maar eenmaal in die lewe kom Die liefde weergaloos; En eenmaal in die gaarde blom Volmaak 'n wonderroos. Verwelk, helaas, my tuin se prag - Weg met die donker stroom - Die wind deurwaai my hof by nag En vind my met my droom. O lippe wat nog lag en lonk! O harte wat nog klop! Steeds doem gestaltes ewig-jonk Uit die verlede op. ‘Eheu fugaces anni ...’ sing Gedagtes wat nou skroei; Op velde van herinnering Pers amarante bloei! Vorige Volgende