Versamelde gedigte(1981)–A.G. Visser– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die Tuinman Spit, o Tuinman, spit diep, tot die aardlippe klou, Drenk die vetste van aarde met lawendste dou En dan wag. In die nag bring Hy blomkelkies broos, Want Hy ken die geheim van die vorm van die roos. Snoei, o Tuinman, snoei flink - hou die knoppe gerig Na die son, want die roos is 'n kind van die lig: Laat 'n sonstraal hul wek met 'n kus uit die Oos - Hy ken ook die geheim van die kleur van die roos. Spoel, o Tuinman, spoel goed - hou die vyande weg, Rein van bloesem en blad kom die roos tot sy reg. Slaap dan sag, want Hy kom voor die môre nog bloos En Hy ken die geheim van die geur van die roos. Vang, o Tuinman, die attar wat drup in die nag En geniet van jou kleur-karnaval elke dag; En as winter dan kom en jou tuin alles derf, Dink: Hy ken die geheim van die skoonheid wat sterf. Bid, o Tuinman, bid steeds, dat jou gaarde nie kwyn, Dat haar heerlikheid nie van die aarde verdwyn, Voor Hy eendag ook jou - en dit sy jou tot troos - O so saggies sal weghark tesaam met die roos. Vorige Volgende